Friday 14 August 2015

Maak jou eie gipsrose




STAP-VIR-STAP: Maak jou eie gipsrose en gebruik dit as spesiale versierings in jou projekte

Gipsrose

Jy benodig
• kunsrose
• gipspoeier
• bloemistedraad, of ’n ander soort dun draad
• draadtangetjie
• draadknipper
• kleurlose aanspuit-vernis of wit spuitverf

1 Knip die stele van die kunsrose korter en buig die punt om sodat jy die blom daaraan kan ophang. As dit te moeilik is om te buig, kan jy ’n stukkie gebuigde draad om die steel draai. Span ook ’n lengte tou waaraan jy die blomme kan hang wanneer jy hulle uit die gipsbad
haal. Sit koerantpapier op die vloer waarop dit kan drup.


2 Maak die gips aan in ’n mengbak. Gooi water in die bak en sprinkel die gipspoeier bietjie vir bietjie oor die water met ’n plastieklepel. Oppas dat daar nie klonte in die water beland nie en moet dit nog nie roer nie. Die water sal melkerig word soos die gipspoeier onder die oppervlak van die water verdwyn.


3 Hou aan gipspoeier byvoeg tot die poeier onder die oppervlak gaan lê en nie verder sink nie. Roer dit dan versigtig en voeg nog poeier by tot die mengsel soos dun jogurt lyk. Die mengsel moet ’n bietjie dunner as gewone gips wees, maar ook nie te loperig nie. LET WEL Daar is nie vaste hoeveelhede vir die meng van gips nie, maar jy kan werk met 1 liter water vir elke 1 kg gipspoeier.


4 Doop jou eerste blom in die gipsmengsel en draai dit aan die steeltjie in die rondte sodat die gips oral tussen die blare kan inloop.


5 Lig die blom uit die gips. Dit moet met ’n dun lagie gips bedek wees en geen klonte daarop hê nie. Roer nog ’n bietjie gipspoeier by as die mengsel te dun is.


6 Hang die blom aan die gespande tou op. Werk vinnig om al die blomme met gips te bedek voor dit hard word. Skep die gips uit en gooi dit weg as dit te hard is. Moenie nog blomme daarmee probeer bedek nie.


7 Laat die blomme oornag aan die tou hang sodat die gips heeltemal hard kan word. Bedek die blomme dan met nog ’n laag gips indien nodig.


8 Haal die blomme baie versigtig van die tou af en spuit dit met kleurlose vernis of wit spuitverf om die gips-lagie te beskerm. Die spuitverf sal ook enige oop kolletjies bedek. Gebruik die blomme vir versierings.


Teekershouers
Gebruik dié idee om roos-kershouers te maak. Kies ’n groot blom waarvan die binneste blare verwyder kan word sodat die kersie binne-in kan pas. Trek die blare net los of knip dit met ’n skêr af. As van die ander blare ook loskom, kan jy dit met jou gomgeweer terugplak. Doop die blom in gips, sit die blom op sy basis neer en sit die teekersie binne-in sodat die blom in die regte vorm kan droog word. Laat dit oornag so staan en doop dit dan weer in gips indien nodig. Spuit dit met vernis of wit spuitverf wanneer dit droog is.


Hoededoos
Versier ’n ronde boks of blik met ’n lint of strokie kant en jou gipsrose. Ons het die kant met alkant-plakband op die deksel geplak en die blomme met ’n gomgeweer. Die maklikste is om die grootste blomme eerste op die deksel te rangskik en dan die kleineres tussenin te sit. Gebruik die boks om spesiale aandenkings in te bêre en stal dit iewers uit.


Raam
Ons het ’n spieëlraam wat reeds met klein rosies ontwerp is, met ekstra gipsrose versier. Spuitverf die raam wit om by die blomme te pas en kies blomme wat mooi lyk by jou spieël. Jy kan die blomme met ’n gomgeweer op die raam vasplak.
 
(Idees)