Monday 17 August 2015

Koek met meringue-versiersel



Koek met meringue-versiersel
Jy kan klein meringue-druppels met dieselfde resep maak en dit 40 min. bak teen 100 ˚C.
Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 15 min.
Gaarmaak: 15-30 min.
2 x 500 g koekmengsel
Meringue-versiersel
4 eierwitte
’n knippie kremetart
500 ml (2 k) strooisuiker
’n knippie sout
5 ml (1 t) vanieljegeursel
10 ml (2 t) brandewyn (opsioneel)
’n paar druppels geel koskleursel
Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer twee 20 cm-koekpanne.
  1. Berei die koekmengsel voor volgens die aanwysings op die verpakking en bak 15 tot 30 min. of tot ’n steekpen skoon uitkom wanneer dit in die koek gesteek word. Sit die koek op ’n draadrak om af te koel.
  2. Meringue-versiersel: Klits die eierwitte met ’n elektriese klitser tot skuimerig en voeg die kremetart by. Klits tot stywe punte vorm. Voeg die strooisuiker bietjies-bietjies by terwyl jy die eierwitte teen ’n hoë spoed klits. Wanneer die laaste strooisuiker bygevoeg is, sal die mengsel glad en glansend lyk.
  3. Vou die sout, geursel, brandewyn (indien gebruik) en ’n paar druppels koskleursel in.
  4. Plak die twee koeke met die meringue-versiersel aan mekaar vas en bedek die hele koek daarmee.