Thursday, 27 August 2015

Geurige Groente Tert (Vir Diabete)





Geurige Groente Tert (Vir Diabete)
Porsies : 8
Porsiegrootte: 1 snytjie tert

Bestanddele:

Kors:
125 ml (60 g) volkoringmeel
125 ml (60 g) koekmeel
5 ml bakpoeier
½ ml sout
50 ml olie
75 ml kookwater

Vulsel:
200 g botterskorsie, geskil en in 1 cm-blokkies gesny
½ middelslag-kop broccoli, in stukkies gebreek
1 groot rooi soetrissie, ontpit en in repies gesny
1 uitjie, in skyfies gesny
75 g fetakaas, gekrummel
1 ml sout na smaak
varsgemaalde swartpeper na smaak
5 – 7 ml droë gemengde kruie
300 ml ongegeurde, vetvrye jogurt
3 ml mosterdpoeier (opsioneel)
3 groot eiers, geklits
10 ml gerasperde parmesaankaas

Metode:

Kors:
Meng al die bestanddele tot ’n nie-klewerige deeg en druk dit vas in ’n ronde, diep tertbord met ’n deursnee van 25 cm. Hou eenkant.

Vulsel:
Verhit oond tot 180 °C. Plaas botterskorsie met ’n bietjie kookwater in ’n groterige kastrol en laat vir 3 minute prut. Voeg broccoli, soetrissie en ui by en bring weer tot kookpunt. Laat vir 3 – 5 minute prut tot groente net gaar maar steeds bros is. Dreineer en skep in rou tertkors. Strooi fetakaas oor en geur met sout, swartpeper en gemengde kruie. Klits jogurt, mosterdpoeier en eiers saam. Giet oor die groentemengsel en strooi parmesaankaas oor. Bak vir 40 – 50 minute tot eiervla gestol is. Sit warm voor as ’n ligte hoofgereg.

Energie: 904 kJ
Koolhidrate: 19,1 g
Vet: 10,2 g
Glukemiese indeks: laag (51)