Thursday 9 July 2015

SUIWELVRY: Onderstebo pynappelkoek




SUIWELVRY: Onderstebo pynappelkoek
Genoeg vir: 8-12
Bereidingstyd:
25 minute
Baktyd:
45 minute – 1 uur
Oondtemperatuur:
180 °c

• 100 ml (90 g) strooisuiker
• 1 x 440 g-blik pynappelringe
• 375 ml (205 g) koekmeel
• 5 ml bakpoeier
• 2,5 ml koeksoda
• 80 ml (70 g) witsuiker
• omtrent 150-200 ml sojamelk
• 60 ml kanola- of sonneblomolie
• 10 ml vanieljegeursel

1 Verhit die strooisuiker in ’n kastrol tot dit ’n mooi karamelkleur kry. Skud die kastrol elke paar sekondes sodat die suiker egalig kan karamelliseer soos dit smelt. Wanneer dit ’n goue karamelkleur het, is dit reg om in ’n gesmeerde koekpan van 23 cm gegooi te word. Dit moenie ’n losboompan wees nie.

2 Gooi die sap van die blik pynappelringe af in ’n maatbeker en druk soveel as moontlik sap uit die pynappels. Sit eenkant.

3 Sif die koekmeel, bakpoeier en koeksoda in ’n groot bak. Voeg ’n knippie sout by en roer dan die witsuiker by.

4 Vul die beker met die pynappelsap tot by die 300 ml-merk met sojamelk. Roer die olie en vanieljegeursel by en gooi in die bak met die droë bestanddele. Vou die nat bestanddele by die droë bestanddele in tot dit net bymekaar kom om ’n sagte beslag te vorm.

5 Rangskik die pynappelringe bo-op die karamel in die koekpan. Skep die beslag bo-op en bak in die verhitte oond vir 45 minute tot ’n uur of tot ’n toetspen skoon uitkom. Laat die koek vir 20 minute in die pan afkoel voor jy dit uitkeer en heeltemal laat afkoel op ’n draadrakkie.