Friday 15 May 2015

Soutige Mielietert




Soutige Mielietert
Vir 6
Gaarmaaktyd 35 minute
Hierdie is ’n soutige weergawe van ’n mielietert (wat tradisioneel gewoonlik soet is). Op sy eie is hy lekker saam met ’n slaai vir aandete, maar dit is ook ’n gepaste bykos saam met ’n potjie of braai.
Jy benodig
• 1 koppie mieliemeel of polenta
• 1¾ koppie gewone of klappermelk
• 4 eiers, geskei
• 2 eetlepels suiker
• ½ teelepel sout
• ¼ teelepel gemaalde swartpeper
• 2 eetlepels broodmeel
• 1 eetlepel olyfolie
• 2 koppies bevrore of ’n blikkie (340 g) heelpitmielies
• 2 eetlepels roosmaryn, gekap
• 1½ koppie cheddar, gerasper
Só maak jy
1 Smeer ’n nr. 2-swartpot of ’n 20 x 20 cm-oondbak met botter. Kry jou kole gereed soos wanneer jy brood bak, of verhit die oond tot 180 ºC.
2 Meng die mieliemeel en melk goed saam in ’n kastrol totdat dit glad is. Verhit dit dan stadig terwyl jy dit aanhoudend roer totdat die mengsel dik is en begin stoom. Haal dit van die hitte af.
3 Meng die eiergele met die suiker, sout en peper, en roer dit saam met die broodmeel en olie deur die pap. Laastens roer jy die mieliepitte, roosmaryn en die helfte van die kaas daardeur.
4 Klits die eierwitte in ’n aparte bak styf en vou dit versigtig by die mieliemeelmengsel in. Skraap die mengsel in die voorbereide pot of oondbak uit en sprinkel die res van die kaas bo-oor.
5 Krap ’n kring in jou kole oop en sit die pot op ’n braaidriehoek in die middel met ’n paar kole op die deksel (of bak dit oop in die oond). Die mielietert sal ná 35 minute gereed wees – goudbruin en effens opgepof.
WENK Jy kan ook ’n halwe hand vol gebraaide spekstukkies of sampioene saam met die kaas by die beslag inroer voordat jy dit bak.