Friday 6 March 2015

Piesang-en-kaneel-lagbekkie-muffins





Piesang-en-kaneel-lagbekkie-muffins
Hierdie muffins is ’n treffer by kinders. Die versiersel gee soetheid, maar die deeg is nie buitensporig soet nie.
Lewer 24
Bereiding: 15 min....
Bak: 20 min.
500 ml (2 k) meel
10 ml (2 t) bakpoeier
5 ml (1 t) koeksoda

7 ml (1½ t) kaneel
125 ml (½ k) strooisuiker
2 eiers
250 ml (1 k) melk
3 ryp piesangs, fyngemaak
Bolaag
230 g roomkaas
60 g botter, versag
60 ml (¼ k) versiersuiker
’n druppel geel koskleursel
2 piesangs, in skywe gesny, vir versier
lekkers vir versier
Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer twee muffinpanne.
1. Sif die meel, bakpoeier, koeksoda en kaneel saam in ’n groot bak en roer die strooisuiker in.
2. Klits die eiers, melk en fyn piesangs in ’n ander bak tot goed gemeng. Voeg die mengsel by die droë bestanddele en vou in. Giet die beslag in die voorbereide muffinpanne en bak 20 minute. Laat die muffins 10 minute in die panne afkoel voor jy dit uithaal. Pak dit op ’n draadrak om heeltemal af te koel.
3. Bolaag: Klits die roomkaas en botter saam tot lig en donsig. Voeg die versiersuiker by terwyl jy klits en roer die koskleursel in. Smeer die bolaag met ’n lepel oor die muffins. Maak ’n gesig met piesangskywe en lekkers.