Monday 9 March 2015

Drie souse vir aartappelslaai




Drie souse vir aartappelslaai

 


Almal het húl manier om aartappelslaai te maak en hou boonop van verskillende bestanddele daarin. Hier is drie verskillende souse waaruit jy volgende keer kan kies. Jy kan nog steeds agurkies, hardgekookte eiers, ui of ander slaaigoed byvoeg soos jy verkies. Ek hou van ’n aartappelslaai met klein aartappeltjies in die skil.

Bestanddele
750 g baba-aartappeltjies, in die skil
sout en peper
15 ml (1 e) olyf- of avokado-olie
Suurroom-en-dillesous
30 ml (2 e) suurlemoensap
125 ml (½ k) suurroom
30 ml (2 e) melk
60 ml (¼ k) grofgekapte vars dille
Kerriejogurtsous
125 ml (½ k) mayonnaise van goeie gehalte
125 ml (½ k) ongegeurde jogurt
2,5 ml (½ t) appelkooskonfyt of heuning
5 ml (1 t) kerriepoeier
45 ml (3 e) gekapte vars koljanderblare
Parmesaan-en-suurlemoensous
45 ml (3 e) olyf- of avokado-olie
sap en fyngerasperde skil van 1 suurlemoen
30 ml (2 e) gekapte vars grasuie
30 ml (2 e) fyngerasperde parmesaan- of wit cheddarkaas

Metode
1. Plaas aartappeltjies met ’n ongeveer 250 ml water en ’n knippie sout in ’n kastrol. Verhit oor matige hitte tot kookpunt, stel die hitte laer en prut met die deksel op vir 15-20 minute of tot net sag.
2. Dreineer die aartappels en plaas in ’n groot mengbak. Giet die olie oor en skud die bak om die aartappeltjies daarmee te bedek. Dit verleen ’n heerlike geur. Laat dit afkoel en sny in die helfte.
3. Kies die sous wat by die res van jou maaltyd gaan pas en meng die bestanddele saam. Geur na smaak. Meng die sous met die aartappels. Dit kan teen kamertemperatuur of yskoud voorgesit word.
Wenke
1. Voeg 1 x 170 g-blik tuna, gedreineer, of 100 g gepeperde makriel en avokado-skyfies by die suurroomsous vir ’n ligte gereg.
2. Roer gaar hoender of stukkies spek by die kerriesous vir ’n ligte gereg.
3. Roketblare, gemarineerde songedroogde tamaties, olywe, fetakaas of vars origanum en roosmaryn is ook heerlik saam met die parmesaansous.
4. Toets die aartappels met ’n toetspen of skerp messie, om so ’n klein as moontlike snit daarin te maak. ’n Groot snit laat die aartappel te veel water absorbeer en oopbars. Moenie gaar aartappels in die water los nie, dreineer dit dadelik. Meng ’n aartappelslaai met die agterkant van ’n houtlepel of sommer met jou hand, om te keer dat jy die aartappels stukkend steek.