Thursday 11 December 2014

Feestelike lae feta, olywe, songedroogde tamaties en salsa verde




Feestelike lae feta, olywe, songedroogde tamaties en salsa verde
Genoeg vir: 1 fles
Bereidingstyd: 20 minute plus marineertyd
Bestanddele:
• 100 g salsa verde*
• 200 g feta, gekrummel
• 100 g swart olywe, ontpit en gekap
• vars knoffel na smaak
• gedroogde origanum, tiemie en roosmaryn
• 50 g songedroogdetamatie-pesto
• olyfolie
1 Was ’n 500 ml-glasfles met warm water en maak seker dis droog voor jy die bestanddele in lae in die fles skep. Begin met die helfte van die salsa verde; skep versigtig ’n laag gekrummelde feta bo-oor, voeg ’n laag olywe en dan ’n ruim skeppie knoffel by, gevolg deur ’n sprinkeling van al die droë kruie. Skep ’n laag tamatiepesto by – jou fles behoort nou amper halfvol te wees. Gaan voort met die volgende laag feta, dan olywe, knoffel en kruie. Eindig met ’n laag salsa verde.

2 Giet olyfolie oor sodat dit al die bestanddele van bo tot onder bedek. Die idee is om ’n aantreklike voorkoms te kry met lae wat nie te dun is nie, maar ook nie so dik dat die geure nie goed meng nie. Laat dit minstens 10 dae tot 2 weke in die yskas marineer. Sit voor op beskuitjies en tuisgebakte brood, of drup dit oor ’n slaai. Heerlik!

*Koop salsa of maak jou eie met gemengde kruie soos basilie, koljander, grasuie en
 ment gemeng met olyfolie, suurlemoensap, knoffel en ’n tikkie tabasco.