Thursday 20 November 2014

Geurige hoenderpastei vir feestyd




Geurige hoenderpastei vir feestyd
1 pakkie blaardeeg (gekoop, of maak u eie)
2 kg hoenderborsies (of porsies)
3 groot, gekapte uie
2 teelepels Italiaanse kruie
halwe teelepel paprika
1 teelepel sout
1 teelepel gemaalde swart peper (grof)
1 teelepel knoffelvlokkies
2 eetlepels suurlemoensap
2 koppies effe soet wit wyn
4 koppies water
1 en 'n half koppie sago in 1 koppie lou water geweek
1 kg bevrore wortelblokkies
2 koppies bevrore ertjies
halwe koppie blatjang
Metode:
Kook die hoender, uie, kruie, paprika, sout, peper, knoffelvlokkies, suurlemoensap, wyn en water tot hoender sag is. Haal af en skep hoenderstukke uit. Verwyder die bene, sny vleis in fyn stukkies en laat koud word.
Behou die sous (aftreksel). Voeg die geweekte sago by die sous en kook baie stadig (prut teen lae hitte). Roer gedurig sodat sago nie aanbrand nie. Laat prut totdat sago deurskynend is. Voeg die wortelblokkies en ertjies by. Laat prut vir ongeveer 15 minute. Roer die sagomengsel, asook die blatjang, by die vleis. Skep in 'n vuurvaste oondskottel.
Rol vooraf gemaakte of gekoopte blaardeeg dun uit en plaas oor hoendermengsel. Verf geklopte eiergeel bo-oor en bak tot goudbruin.
Die sagomengsel sal die oortollige sous verdik al die geur is in die sousaftreksel en dit maak van die pastei 'n wenner. Sampioene kan opsioneel bygevoeg word.
Hierdie pastei is heerlik warm of koud.