Wednesday 29 October 2014

Blomkoolkoek



Blomkoolkoek
 ‘n Heerlike alternatief tot quiches en soutterte. Sit voor as ‘n ligte ete met ‘n eenvoudige komkommer- en kruieslaai.
Bedien 4 – 6 persone.
Bestanddele
1 medium blomkool, 650 g – 700 g
1 groot rooi ui geskil
100 g olyfolie
½ teelepel fyngekapte roosmaryn
10 medium eiers (vrylopend)
20 g basielkrud, gekap (of 30 ml pesto) 180 g meel
2½ teelepel bakpoeier ½ teelepel borrie, fyngemaal
220 g Parmesaankaas, gerasper of enige ander verouderde kaas
Sout en swartpeper
Gesmelte botter om mee te smeer
30 ml sesamsaadjies
15 ml swart uie saadjies (nigellasaad) of swart sesamsaad
Metode
Voorverhit die oond tot 180ºC.
Berei jou pan voor: Gebruik bakpapier om ‘n 24 cm losboom ronde koekpan mee uit te voer. Borsel die kante met gesmelte botter, plaas die gemengde sesam- en uiesaadtjies in die pan en kantel die pan sodat die saadjies aan die kante vassit.
Breek die blomkool op in medium grootte blommetjies. Plaas in ‘n kastrol met ‘n teelepel sout, bedek met water en kook stadig vir 15 minute, tot redelik sag maar nie pap nie. Dreineer en laat vir ‘n paar minute in die vergiettes staan tot goed droog.
Berei die beslag voor terwyl die blomkool kook. Sny ‘n paar 0.5 cm ringe aan die een kant van die ui en hou eenkant (dit gaan op die bo-kant van die koek kom); kap die res van die ui grof op. Verhit die olie in ‘n pan en braai die gekapte ui en roosmaryn oor lae hitte vir 8 minute. Verwyder van die stoof en laat afkoel, voeg die eiers en basielkruid by en klits met ‘n ballon-klitser.
Sif die meel, bakpoeier en borrie saam in ‘n groot mengbak. Voeg die Parmesaankaas, 1 ½ teelepel sout en baie varsgemaalde swartpeper by. Voeg die eiermengsel by en klits met ‘n ballon-klitser om van al die klonte ontslae te raak. Voeg die blomkool by en meng saggies om dit nie uitmekaar te breek nie.
Voeg die blomkoolmengsel in die pan en rangskik die uieringe bo-op. Bak die koek in die middel van die oond vir 45 minute, tot goudbruin en gestol is. Bedien warm of by kamertemperatuur.
. Errieda du Toit