Monday 11 August 2014

Vinnige wildspastei vir die besige vrou




Vinnige wildspastei vir die besige vrou

Kors

1 pak klaargerolde blaardeeg

Vulsel
2 kg wildsvleis (enige soort)
500 g skaapvleis
250 ml Coke
100 ml kookolie

2 uie, fyngekap
1 groen soetrissie, opgekap
2 tamaties, geskil en gesnipper
250 g ontbytspek, gesnipper
125 ml blatjang
5 ml elk knoffelvlokkies en vars gemaalde swartpeper
15 ml sout
5 ml gemaalde koljander
2 ml gemaalde naeltjies
15 ml worcestersous
75 ml suurlemoensap
100 ml droë rooi wyn
50 ml soet rooi wyn
250 ml suurroom
2 blikkies (285 g elk) gesnipperde sampioene, gedreineer (hou vloeistof)
1 pakkie beesstertsop (60 g) aangemaak met 250 ml van die sampioenwater

Bolaag
1 eiergeel
50 ml water

Stel die oond op 200°C. Laat deeg in yskas ontvries.
Sny die vleis in 3 cm-blokkies en stowe dit dan in die Coke tot sag. (Hoewel die kola dit ‘n mooi bruin kleur gee, is die vleis geneig om makliker aan te brand. Hou dus dop). Maak seker dat al die beentjies uit die vleis verwyder is.
Braai intussen die uie, soetrissies en tamaties effe saam in die olie en skep dit by die vleis. Braai die spekvleis liggies in dieselfde pan en voeg by die vleis. Meng die res van die bestanddele goed saam en meng dit by die vleis. Prut net deur om geure te laat meng en skep in ‘n vuurvaste pasteibak.
Rol die deeg uit, plaas bo-op vleis en druk die kante vas. Indien verkies, maak deegblare van die oorskiet deeg en rangskik bo-op pastei. Klits eier en water en verf oor die deeg. Maak snytjies of druk gaatjies bo in deeg sodat stoom kan ontsnap. Bak 30 minute tot goudbruin.

Wenk
Vir ‘n vinnige pastei, gebruik gaar fyn wildsvleis.

Stowe oorskietbene met ‘n stukkie varkspek in ‘n bietjie vleisaftreksel totdat vleis loskom. Maak vleis fyn en bevries tot nodig.