Wednesday 11 June 2014

Maak jou eie lappop




Maak jou eie lappop

Voor jy beginVir al die speelgoed moet naattoelatings van 1 cm by al die patroondele gevoeg word. Dis makliker om met ’n naaimasjien as met ’n omkapmasjien gestik te word, aangesien die dele baie klein is. Jy kan dit ook baie maklik met die hand werk, met ’n klein, netjiese agterstekie vir die nate. Knip die naattoelatings agterna tot 5 mm af voordat jy die speelding omdop sodat dit nie dik is by die nate nie.


Brei-afkortings
alt                  alternatiewe
aw                  aweregs
beg                  begin
gl                     glip
her                  herhaal
ks                    koussteek
M1                  maak ’n st deur die horisontale lus voor die vlg st op die linkerpen op te tel en        agterin die st te brei
mos                 r1, aw1 oor alle RK-rye; aw1, oor alle VK-rye
pat                  patroon
r                      regs
rdte(s)                        rondte(s)
rek                  reksteek
RK                   regte kant
st(e)                steek (steke)
tes                   tesame
tglso                trek glipsteek oor
vermeer         vermeerder
vermin            verminder
VK                   verkeerde kant
vlg                   volgende

GrootteHoogte van kop tot toon: 49 cm.

Jy benodig• patroondiagram (sien hier onder)
• 100 x 100 cm ongebleikte kaliko
• oorskietstukke bedrukte katoenmateriaal vir die rok
• oorskietstukkie groen linnemateriaal vir die skoene
• oorskietstukkie swart vilt vir die oë
• bypassende kleur masjiengare
• 4 mm-breipenne
• oorskiet-dubbelbreidraad in cerise en babapienk
• 1 x 50 g-bol bruin dubbelbreidraad vir die hare
• rooi borduurgare
• 50 cm pienk en rooi satynlint, 5 mm breed
• poliëster-speelgoedstopsel
• kleremakerspotlood
• borduurnaalde
• materiaalgom

Lappop-patroon

So knip jy
Vergroot die diagram tot die werklike grootte en knip dit uit. Knip uit die kaliko twee lyfdele en twee kopdele. Knip uit die bedrukte katoenmateriaal twee bolyfiedele, een reghoek van 60 x 8 cm vir die eerste dwarsbaan van die romp en ’n tweede reghoek van 75 x 11 cm vir die tweede dwarsbaan van die romp. Die nek en armsgate van die bolyfie word omboor vir afwerking. Jy moet volgens dié mate 3 cm-skuinsstroke uit die bedrukte katoenmateriaal knip; maak liefs eers die bolyfie en meet dan die rande voordat jy die stroke knip. Knip twee sole en twee skoenbokante uit die groen linnemateriaal. Knip twee klein swart sirkels uit die vilt vir die oë.

So stik jy

Lyf
Let wel
Dis die maklikste om eers die lyf, kouse en skoene en dan die rok te maak voordat die kopgedeelte gestik word, omdat die patroondele so ontwerp is om in dié volgorde te pas.

1 Sit die regte kante van die lyfdele op mekaar en stik dit aan die buiterand toe, maar laat die nekrand oop. Stik versigtig om die duimgedeelte van die hande. Knip die naattoelatings by die geronde rande oral in sodat jy ’n gladder naat kry – oppas dat jy nie die stiksel raakknip nie.
2 Dop die lyf versigtig deur die opening by die nek na die regte kant toe om. Steek ’n breipen in die hand-, duim-, onderarm-, toon- en kruisgedeeltes sodat die nate plat lê.
3 Stop die lyf styf op met poliësterspeelgoedstopsel. Gebruik weer ’n breipen om die stopsel by die kleiner plekke in te druk. Ryg die nek stewig toe.

Gestreepte kouse (maak twee)Stel 30 ste op met die 4 mm-penne en cerise breidraad. Brei 2 rye in rek. Gaan oor na babapienk breidraad en brei in ks-streeppat van 2 rye in elke kleur. Moenie die breidraad afknip elke keer as jy van kleur verander nie, maar neem net die een breidraad oor die ander by die syrand. Brei in ks-strepe verder tot die werk 17 cm van die beg is, eindig met ’n aw ry. Heg af.
Sit so aan mekaar: Werk alle los punte weg. Vou die kous in die lengte in die helfte en werk die naat met dwarssteek toe. Trek die voetlose kous oor die voet sodat die naat aan die binnebeen is. Werk ’n paar stekies met die hand aan die bo- en onderrande van die kous om dit in posisie te hou.

Rok
1
Sit die bolyfiedele op mekaar met die regte kante teen mekaar en stik die skouernate toe. Dop die bolyfie na die regte kant toe om. Boor die nekrand met die skuinsstrook om – begin en eindig in middelagter.
2
Boor die twee armsgate net so om – begin by die onderarm. Dop die bolyfie na die verkeerde kant om en stik die synate toe. Dop die bolyfie deur die nekrand na die regte kant toe om.
3
Plooi die eerste rompbaan in sodat dit op die onderrand van die bolyfie pas. Sit die regte kante op mekaar en stik dit in posisie vas. Plooi die tweede rompbaan in sodat dit op die eerste baan pas en stik dit vas. Trek die rok oor die nek aan. Die rande van die romp is met ’n rafelrand ontwerp. Indien verkies, kan jy meer drade uittrek om ’n fraiingrand onderaan die bane te vorm.

Skoene
1
Stik die sool aan die geronde rand van die bokant van die skoen met die regte kante teen mekaar. Knip die naattoelatings oral aan die geronde rand in.
2
Werk die rafelrande met sigsagsteek af of kap die borand om sodat die linne nie uitrafel nie. Trek die skoen aan die voet en sorg dat dit die opstelrand van die kous bedek. Werk die opening in die naat met die hand toe sodat die skoen goed pas. Knip die pienk lint in twee gelyke dele, knoop ’n strik en werk dit in die middelvoor van die skoen vas.

Kop
1
Sit die kopdele op mekaar met die regte kante teen mekaar en stik dit om die rand toe, maar laat die nekrand oop. Knip die naattoelatings oral aan die geronde rand in en dop dit na die regte kant toe om.
2
Stop die kop met die stopsel op en druk dit ook by die ore in. Trek die rygdrade by die nek van die lyf uit. Vou die naattoelatings in en steek die kop in die lyf. Werk die kop versigtig aan die lyf vas sodat dit stewig vas is.

Hare
Let wel
Die hare word aan die middelagter van die kop vasgesit. Trek ’n lyn op die agterkop af en gebruik dit as jou riglyn.

1 Knip lengtes breidraad van omtrent 60 cm af. Vou die breidraad in die helfte en werk dit op die lyn vas. Probeer deur die breidraad werk sodat dit vas is, anders kan die hare later maklik uitval. Gaan so voort totdat die hele agterkop met hare bedek is.
2 Volg vir die kuifie die naat bo-op die kop. Knip lengtes breidraad van omtrent 15 cm af. Werk die middel van die string aan die naat vas net soos voorheen gedoen is. Gaan so voort tot die kuif dig is.
3 Knip die kuifie netjies om die gesig as dit klaar is. Jy kan ook die hare netjies knip as dit nie reguit is nie. Skep jou eie haarstyl deur die hare met mooi linte in poniesterte vas te bind of vlegsels te maak.

GesigPlak die viltoë met die materiaalgom in posisie vas en laat dit droog word. Teken ’n glimlag met die kleremakerspotlood, volg die lyn en borduur ’n mond met klein, netjiese agterstekies en die rooi borduurgare.