Wednesday 9 April 2014

Kaapse kerrievis





Kaapse kerrievis
“Niks is so lekker in die Kaapse somerhitte soos yskoue kerrievis wat ordentlik van die sous deurtrek is nie. Maak dié resep ’n paar dae voor jy dit wil eet. Ek het by ons Maleier-bouer Mustafa Gamsat leer kerrievis maak. Gammie het my geleer die vis moet in ’n beslag gebak word, dan bly die porsies mooi heel en verkrummel dit nie in die sous nie.” – Riana Scheepers
Resepte
...
Bestanddele
Vis
1,5 kg stokvis; 375 ml meel; 25 ml vlapoeier; 5 ml sout; witpeper; 2-3 eiers, met ’n bietjie water geklits; druiwepitolie vir vlakbraai.
Kerriesous
2 uie, gekap
10 ml gekapte knoffel; druiwepitolie vir braai
10 ml vars gemmer, gerasper
15 ml fyn koljander
15 ml heel komynsaad
2,5 ml fyn kaneel
20 ml masala-poeier, of na smaak; 5 ml gekapte vars rooi brand-rissie (opsioneel)
10 ml borrie
10 ml sout, of na smaak
170 ml suiker
30 ml appelkooskonfyt
750 ml asyn
5 suurlemoen- of lourierblare
125 ml water
20 ml suurlemoensap
15 ml koljanderblare
’n hand vol droëperskes
Aanwysings
Vis
1. Sny die vis in netjiese porsies.
2. Meng die meel, vlapoeier, sout en witpeper.
3. Rol die visporsies in die meelmengsel en dan in geklitste eier.
4. Braai die vis in vlak druiwepit­olie in ’n pan gaar en dreineer op kombuis­papier.
Kerriesous
1. Braai die uie en knoffel in die olie tot sag.
2. Voeg die gemmer, koljander, komynsaad, kaneel, masala, brand-rissie en borrie by en roerbraai vir ’n paar minute.
3. Voeg die res van die bestanddele, behalwe die droëperskes, by en kook vir drie minute.
4. Verlaag die hitte en prut vir nog 20 minute. Voeg die perskes by.
5. Pak die vismootjies en sous in lae in ’n houer wat dig kan sluit en laat dit minstens drie dae in die yskas staan sodat die geure kan meng.
Wenk: “Ek gebruik stokvis as ek kerrievis maak. Kabeljou, geelstert en enige ander ferm vis werk ook.”