Monday, 17 February 2014
Jamblik-bruinbrood
Jamblik-bruinbrood
◾500 g koekmeel
◾500 g bruinbroodmeel
◾10 ml sout
◾3 x 10 g-pakkies kitssuurdeeg
◾30 ml heuning
◾500 ml louwarm water
Plaas die blikkies op ‘n bakplaat en voer hulle met bakpapier of bruinpapier uit. Smeer of spuit die papier goed. Meng die koekmeel, broodmeel, sout en suurdeeg goed saam in ‘n groot mengbak. Meng die heuning en warm water apart. Voeg die vloeistof geleidelik by totdat jy ‘n stywe deeg het. Knie die deeg vir sowat 10 minute tot elasties. Plaas terug in die mengbak en bedek met kleefplastiek. Sit die bak op ‘n warm plek en laat tot dubbel die grootte rys. Knie die deeg af en verdeel in 4. Vorm nou lang stukke deeg – dit maak dit makliker om dit in die blikkies te kry. Vul die blikkies tot so 3 cm van die boonste rand met die deeg. Laat die deeg weer op ‘n warm plek tot dubbel die grootte rys. Plaas teen 180 °C vir 30-40 minute in ‘n voorverhitte oond tot gaar. Toets met ‘n toetspen om seker te maak die broodjies is gaar.
Wenk
Neem 4 konfyt-, groente- of tamatieblikke van 420 g. Sny die blikke bo en onder met ’n blikoopmaker oop, sodat die brood egalig kan deurbak. Ek gebruik tamatieblikke, want ek vries dan net die tamaties tot ek weer ’n pastasous wil maak. Die blikke wat ‘n mens deesdae koop, wat jy sonder ’n blikoopmaker oopmaak, werk nie. Dit het ‘n rand aan die binnekant en jou brood sal nie uit die blik kom nie.
(Sarie)