Sunday 26 January 2014

Suurlemoenskuimtert




Suurlemoenskuimtert

Die resep lewer twee middelslagterte of 12 individuele tertjies. Jy kan die resep halveer vir een tert.

Kors
1 x 200 g pak Tennisbeskuitjies
1 x 200 g pak Mariebeskuitjies
160 ml gesmelte botter
Vulsel
2 x 397 g blikke kondensmelk

250 ml suurlemoensap
4 eiergele
8 eierwitte
125-180 ml strooisuiker

Voorverhit die oond tot 180 °C. Druk die beskuitjies fyn (of pols dit in ’n voedselverwerker) en voeg die botter by. Maak aan tot die krummels klam is en druk die kors op die boom en halfpad teen die kante van twee standaard-tertborde of 12 individuele klein tertbakkies vas. Verkoel tot nodig. Klits die kondensmelk, suurlemoensap en eiergele saam en gooi in die tertborde (of bakkies).

Bak 15 minute (vir groot terte) of 10 minute (vir individuele tertjies). Klits eierwitte tot net verby die sagtepunt-stadium en voeg die strooisuiker lepel vir lepel by. Hou aan klits tot blinkwit, maar nie tot die meringue baie dik en styf is nie. Skep die merinuge op die terte. Sit terug in die oond en verlaag die oondtemperatuur tot 140 °C. Bak vir nog 20 minute. Haal uit die oond en laat afkoel tot kamertemperatuur.