Sunday 19 January 2014

Mynhardt en Tiaan se Liquorice roomys, donker sjokolade krummels en meringue




Die ‘All Black’ Nagereg
Voorbereiding: 1 uur en 'n half sonder vriestyd

Ons moes net 'n bietjie ons rugbylegende gaste se bene trek met die volgende nagereg:

Liquorice roomys, donker sjokolade krummels en meringue

Roomys

• 1 liter room
• 10 eiergele
• 200g suiker
• 5 stringe 'drop' of liquorice

Verhit die room saam met die drop tot gesmelt, klits die eiers saam met die suiker tot lig en romerig, voeg die roommengsel by en verhit dan weer tot gaar. Verwerk in roomys masjien tot gevries.

Met die gebrek aan ‘n roomysmasjien, giet in ‘n vlak bak en sit in die vrieskas, klits elke uur of wat tot gestol om yskristalle te voorkom!

Koswenk: Maak die roomys 'n dag voor die tyd om hope spanning te voorkom. Die laaste ding waaroor jy jou moet bekommer is of die roomys geset het...

Donker Sjokoladekrummels
Oond 180 grade

• 200g meel
• 100g sagte botter
• 100g kakao
• 100g suiker

Vryf die botter in by die meel en die kakao en strooi die suiker bo oor. Bak in matige oond en roer deurentyd tot gaar en bros. Hou eenkant.

Koswenk: Hierdie kan 'n paar dae voor die tyd gemaak word en hou wonderlik in 'n lugdigte houer. Maak sommer genoeg vir volgende keer!

Meringue
Oond 50 grade

• 4 eierwitte
• 100g fyn strooisuiker
• 100g versiersuiker

Klits die witte tot sagtepunt stadium - dit moet lyk soos die sneeupieke op die Switerse Alpe - en voeg die suiker stelselmatig by tot opgelos. Vou nou die versiersuiker in en spuit op voorbereide bakplaat in klein hopies. Plaas in die lou oond van 50 grade tot uitgedroog en bros.

Kombineer alles op 'n wit bord om die kleur te laat uitstaan. Skep die roomys laaste op en bedien dadelik.