Monday 27 January 2014

Klam oonddroog-kersietamaties




Klam oonddroog-kersietamaties

Dié baba-tamaties gee ’n fynproewersmakie aan slaaie en voorgeregte, of probeer dit as pizza-bolaag, in pastasouse of as deel van ’n mezze-bord.

Maak: omtrent 3 flesse
Bereidingstyd: 45 minute
Gaarmaaktyd: 4-6 uur
Oondtemperatuur: 100 oC

• 2 kg kersietamaties
• 10 ml strooisuiker
• 120 ml olyfolie
• 2 knoffelhuisies, dun gesny
• 2 takkies vars roosmaryn
• 2 takkies vars tiemie
• 30 ml suurlemoensap

1 Was die tamaties, laat dit droog word en sny dit dan middeldeur. Voer bakplate met bakpapier. Pak die tamatiehelftes op die bakplate met die gesnyde kant na bo.

2 Sprinkel die suiker, 45 ml sout en varsgemaalde swartpeper na smaak bo-oor. Sit die waaier aan as jy ’n konveksie-oond het en droog die tamaties vir 4-6 uur na gelang van hoe groot hulle is. Hulle moet krimp, maar nog klam wees in die middel.

3 Verhit intussen die olyfolie met die knoffel en kruie. Haal dit van die plaat af sodra dit warm is en laat dit eenkant staan. Gooi die olie deur ’n sif net voor die tamaties gereed is. Verhit dit weer en voeg suurlemoensap by.

4 Was en steriliseer die inmaakflesse en vul dit terwyl die flesse en die tamaties nog warm is.

(Idees)