Monday 4 November 2013

Suurlemoen-frikkadelle in tamatiesous





Suurlemoen-frikkadelle in tamatiesous
Genoeg vir 6 mense
Bereiding:  15 – 20 minute
Staantyd:  30 minute
Gaarmaaktyd:  2 - 2½ uur
 

TAMATIESOUS
60g botter
90ml olyfolie
1 middelslag ui, fyn gekap

10 knoffelhuisies, fyn gekap
4 blikke heel tamaties
20ml suiker
7ml sout
750ml water
250ml basilieblare, gekap
Vars gemaalde swartpeper

Verhit die botter en olie in ‘n groot kastrol en roerbraai die ui en knoffel tot sag maar nie bruin nie.  Voeg die tamaties, suiker, sout en water by.  Gebruik ‘n staafmenger en pols die tamatiemengsel tot fyn.  Bring die sous tot kookpunt, verlaag die hitte en laat prut sowat 2 - 2½ uur tot geurig.  Verwyder van die hitte, voeg die basilieblare en swartpeper by, plaas die deksel op en laat staan sowat 30 minute.  Geur met sout en peper.

FRIKKADELLE
1 sny witbroodkrummels, sonder korsies
1 eier, geklits
500g maer maalvleis
15ml organumblare, fyn gekap
15ml pietersielie, fyn gekap
2ml roosmarynblaartjies, fyn gekap
2ml salie, fyn gekap
Skil van een suurlemoen, gerasper
Sout en vars gemaalde swartpeper
Olie vi vlakbraai
15ml botter
2 knoffelhuisies, fyn gekap
500g spaghetti, gaargemaak volgens pak-aanwysings
Parmesaankaas, in skywe gesny
Ekstra basilieblare vir garnering

 
Meng die broodkrummels met die eier.  Voeg die maalvleis, vars kruie en suurlemoenskil by en geur met sout en peper.  Gebruik jou hande om dit goed te meng.  Vorm klein bolletjies en laat rus ‘n paar minute in die yskas.  Verhit ‘n bietjie olie in ‘n groot pan e braai die frikkadelle ‘n paar op ‘n slag tot amper gaar en goudbruin.  Hou eenkant.  Gebruik dieselfde pan waarin die frikkadelle gebraai is, verhit die botter en braai die knoffel oor matige hitte.  Voeg die tamatiesous by en bring tot kookpunt.  Verwyder die pan van die hitte en skep die frikkadelle daarby, geur indien nodig.  Skep die pasta, sous en frikkadelle bo-op.  Garneer met parmesan en basilie.