Friday 13 September 2013

MATHILDA SE KAROO PIZZA




MATHILDA SE KAROO PIZZA MET VOLSTRUIS, KERRIE-SKIETMIELIES EN GROENVY
(Genoeg vir 2 voorgereg porsies of een groot pizza)
 Toppings
Wildsvleis-flertse (carpaccio)
Wildsfleis frikadelle
Kerrie Springmielies
Gekarameliseerde botterskorsie
Groenvye

En verbeel jou: ‘n pizza met sy eie ‘slaaisous’: rooiwyn-, asyn en groenvystroop-reduksie
Vir die Pizza deeg
500g Witbrood meel
10ml olyfolie
3/4 pakkie droë kitsgis
5ml sout
5ml suiker
Genoeg louwarm water om die storie bymekaar en kniebaar te kry (of sommer kraanwater as dit Barrydale-warm buite is).
 Metode: Knie tot elasties en egalig en laat rys op ‘n warm plekkie vir tien min. Rol dun uit in oval-vormige pizzas wat sommer lekker rof en kunstig lyk.
Plaas op ‘n gasbraai* se rooster vir 2 min aan ‘n kant teen hoë hitte of bak in ‘n oond teen 200 °C vir 10 min of tot lekker krakerig.
 Volstruis-filette
Marineer 2 Volstruis Filette in:
2E Olyfolie
1E Rooiwyn
sout en swartpeper na smaak
2E rooiwynasyn
 Braai oor warm kole vir 1 min aan ‘n kant en laat rus. Sny baie dun soos Carpaccio en plaas eenkant.
 Volstruis-frikkadelle
Haal 1/2k se volstruis wors uit sy derm en rol in klein frikkadelletjies. Strooi liggies met komyn. Braai oor die kole net voor opdiening van die pizza.
Botterskorsie
Kook en karameliseer 1 koppie botterskorsie-blokkies in sout en peper na smaak met ‘n bietjie groenvyestroop.
 Springmielies
¼ koppie springmielies
Kerriepoeier
Sout
Metode: Skiet  die springmielies, geur met sterk kerriepoeier en sout (plaas eenkant)
Rooiwyn-, asyn en groenvystroop reduksie
30ml rooiwyn
30ml Balsamiese asyn
10ml rooiwyn asyn
30ml ingelegde groenvye stroop
 Metode: Laat die spul stadig prut oor matige hitte tot dat dit dik en stroperig is. Dit kom na die tyd bo-oor die pizza.
Onderlaag
½ koppie kalamata olywe, ontpit en gekneus,
2 knoffelhuisies
30ml goeie olyolie
Sit die pizza aanmekaar
Smeer die onderlaag oor die pizzabasis. Strooi die botterskorsie en frikkadelle bo-oor, dan die volstruis carpaccio, gevolg deur ‘n paar dun skyfies groen vye hier en daar (3 vye in 6 skywe gesny). Eindig met die kerrie popcorn en laastens die asyn-en rooiwyn reduksie. Sit voor met ‘n lekker robuuste rooiwyn en geniet op ‘n lekker somersdag.
*Dis op ‘n Weber-gasbraai gedoen met ‘n klapdeksel. Speel rond met jou eie braai-kontrepsie of maak die pizza in die oond. Jy soek egter die rokerige smakie.