Thursday 5 September 2013

Botterskorsie-en-feta-quiche




Botterskorsie-en-feta-quiche

Bereiding: 30 minute
Staantyd: sowat 15 minute
Gaarmaaktyd: sowat 50 minute...


400 g gekoopte broskorsdeeg, ontdooi
500 g botterskorsieblokkies
sout en peper
olyfolie
2 preie, fyn gesny
125 g spek, in blokkies gesny
150 g fetakaasblokkies
2 eiers
2 eiergele
250 ml (1 k) room of melk

1 Voorverhit die oond tot 220 °C. Rol die deeg liggies uit op ’n meelbestrooide werkoppervlak en voer ’n middelslag- quichepan of ’n paar kleiner pannetjies uit met die deeg. Laat staan die deeg vir ’n paar minute in die yskas.

2 Prik die kors en bak die deeg sowat 10 minute blind (met bakpapier en droëbone op die deeg). Verwyder die papier en die bone en bak nog 2 minute.

3 Sit die botterskorsie in ’n oondbak, geur met sout en peper en bedruip met olie. Bak sowat 20 minute of tot gaar.

4 Braai intussen die preie en spek tot goudbruin en bros. Hou eenkant.

5 Verlaag die hitte tot 180 °C. Skep die botterskorsie, preie, spek en fetakaas in die pan.

6 Meng die eiers, eiergele en room of melk en geur met sout en peper. Giet dit oor die botterskorsie-en-spekvulsel. Moenie te veel eiermengsel ingooi nie; dit sal oorloop en mors.

7 Bak die quiche sowat 20-30 minute of tot gaar.