Wednesday 7 August 2013

Aartappel-en-spinasiegebak

 

 

Aartappel-en-spinasiegebak

 
Genoeg vir 10-12 mense
Gaarmaaktyd: 20 minute
Baktyd: 30-40 minute

8 aartappels, gewas
1 L (4 k) water
sout
30 ml (2 e) botter
1 ui, fyn gekap
2 knoffelhuisies, fyn gekap
15 ml (1 e) groentesprinkelsout
250 g (1 houer) gladde maaskaas
2 bosse spinasie, deeglik gewas en gesnipper
250 ml (1 k) gerasperde kaas van jou keuse
olie (verkieslik olyfolie) om mee te bedruip
30 ml (2 e) gekapte vars pietersielie
 
Sit die aartappels en water in ’n kastrol, voeg sout by en kook sowat 15-20 minute tot die aartappels gaar is, maar nie oorgaar nie.
Verhit intussen die olie of botter in ’n groot braaipan en braai die ui en knoffel liggies vir 2-3 minute tot sag en geurig.
Geur met groentesprinkelsout en roer dan die gladde maaskaas in.
Voeg die gesnipperde spinasie by en laat kook hoogstens 2-3 minute terwyl jy aanhoudend roer. (Dit moet nog nie
gaar wees nie.)
Verwyder van die hitte en roer die helfte van die kaas by.
Sit dit eenkant.
Voorverhit die oond tot 180 ºC en smeer ’n middelslagoondbak liggies met olie of botter.
Sny die gaar aartappels in skywe.
Rangskik die helfte van die gesnyde aartappels in die voorbereide bak, geur met groentesprinkelsout en bedek met
die spinasiemengsel.
Rangskik die res van die aartappels bo-op die spinasie, bedruip of borsel met olie en bak 20 minute.
Besprinkel dit met die res van die kaas en kruie en bak nog 10-20 minute tot gaar.
Sit voor as ’n bykos.

WENKE: Die baktyd wissel van 20 tot 40 minute, na gelang van hoe gaar die aartappels is voor dit gebak word. Jy kan ook suurroom of gewone room pleks van maaskaas gebruik.