Wednesday 17 July 2013

APPEL-EN-KANEEL-MISVERSTAND

APPEL-EN-KANEEL-MISVERSTAND

Deeg:

1 koppie koekmeelblom
½ t suiker
knippie sout
90 g koue, ongesoute botter, in blokkies gesny
1 e water

Bolaag:
1/3 koppie koekmeelblom
¼ koppie bruinsuiker, vasgedruk
1 e mieliemeel of semolina
½ t kaneel
knippie sout
50 g ongesoute botterblokkies, by kamertemperatuur
50 g geblansjeerde amandelvlokkies

Vulsel:
1 vanieljepeul se saadjies
1/3 koppie suiker
4 groot Golden Delicious-appels, afgeskil en in dun skyfies gesny
30 g botter, gesmelt

Berei die deeg so:
Meng die meelblom, suiker en sout in 'n voedselverwerker. Voeg die botter blokkie-vir-blokkie (blokkiesgewys) by totdat die mengsel soos fyn broodkrummels lyk. Voeg net genoeg water by om die deeg mee te bind. Druk die deeg in 'n plat skyf, draai in kleefplastiek toe en verkoel in die yskas tot ferm.

Berei die bolaag so:
Meng die koekmeelblom, suiker, mieliemeel, kaneel en sout in 'n bakkie. Meng die botter met 'n vurk totdat die mengsel soos broodkrummels lyk. Vou die amandels in en hou in die yskas totdat jy dit wil gebruik.

Berei die vulsel so:
Meng die vanieljesaadjies en die suiker (die saadjies kleef aan mekaar vas – meng dus deeglik). Meng met die appels en laat staan eenkant vir minstens 30 min. totdat die appels 'n bietjie sag begin raak. Dreineer die appels en voeg die botter daarby.

Voorverhit die oond tot 180 *C.
Stel die crostata so saam:
Rol die deeg op 'n groot, meelbestuifde vel bakpapier uit. As die deeg te koud is, sal dit erg krummel. Wees geduldig. Probeer om 'n dun skyf met 'n oneweredige rand uit te rol.
Pak die appels in die middel op 'n hopie met 'n 4 cm-deegrand daarom. Vou en plooi die rand reg rondom oor die vulsel. Skuif die crostata – papier en al – op 'n groot bakplaat met 'n rand. (Die souserigheid sal uit die crostata sypel terwyl dit bak.) Sit warm of louwarm voor met vars room.