Wednesday, 5 June 2013

Branderige tamatieblatjang





4 tamaties (ongeveer 450 g)
1 groot appel (ongeveer 200 g)
1 ui (ongeveer 100 g)
125 ml suiker
250 ml witwyn- rooiwyn- of moutasyn, of ‘n mengsel
15 ml vars, gerasperde gemmer
5 ml mosterdpoeier of 10 ml mosterdsaad


10 ml koljandersade
2 rooi rissies, fyngekap

Sny ‘n kruis in die bo- en onderkant van elke tamatie. Gooi pasgekookte water oor en laat vir 2 minute staan. Spoel vinnig onder lopende koue water af. Verwyder die skille en sny in blokkies.

Skil die appel en sny in klein blokkies van ongeveer ‘n halfsentimeter.

Kap die ui in klein blokkies.

Braai die tamatie, appel en ui in ‘n klein bietjie olie totdat dit baie warm is – dit moet egter nie brand of verbruin nie.
Verwyder ‘n oomblik van die hitte en voeg die suiker by. Roer totdat die suiker opgelos is.
Plaas terug op die hitte en voeg die asyn by. Voeg ook die gemmer, mosterd, koljander en gekapte rissies by. Bring tot kookpunt en laat vinnig, borrelend kook vir minstens 30 minute. Hou dit dan dop terwyl dit nog tot 15 minute kook. Daar moet geen vloeistof agterbly nie.


Kook water in die ketel, plaas die glashouers waarin jy dit wil sit in ‘n hittevaste bak en gooi die kookwater oor. Hierdie metode is nie voldoende om glashouers te steriliseer vir die lang duur, maar aangesien mens so min blatjang maak, dit in die yskas kan hou en vinnig opgebruik, is dit net reg.