Thursday, 8 November 2012
AARTAPPEL PASTEI
Die Nataniël Tafel
JY BENODIG
3 t ongesoute botter
1 groot ui, dun skywe gesny
¾ koppie crème fraîche
½ koppie gekapte pietersielie
fyn seesout
pasgemaalde swartpeper
¼ t fyn neutmuskaat
2 rolle gekoopte blaardeeg
1kg middelslagaartappels,
vir 10 minute tot halfgaar gekook
1 eier, liggies geklits, om mee te verglans
METODE
Smelt die botter in 'n middelslagpan oor matige hitte. Voeg die uieskywe by, roer totdat dit met botter bedek is, en soteer vir sowat 3 minute terwyl dit dikwels geroer word, totdat die uie deurskynend is. Haal van die hitte af en laat eenkant staan. Meng die crème fraîche, pietersielie, 'n knippe sout, peper en neutmuskaat in 'n middelslagbak en roer totdat dit gemeng is. Laat staan eenkant. Voorverhit die oond tot 200°C. Rol een van die rolle deeg op 'n werkvlak, wat liggies met meel bestuif is, uit in 'n reghoek van 30 x 25cm; herhaal met die ander rol deeg. Sit een vel deeg eenkant. Pak een helfte van die aartappelskywe in 'n laag met 'n 2,5cm rand rondom en die skywe wat mekaar oorvleuel op een vel deeg. Smeer die helfte van die crème fraîche-mengsel oor die aartappels en strooi die gaar uie bo-oor. Pak die oorblywende aartappels bo-op, gevolg deur die oorblywende crème fraîche-mengsel. Bedek die aartappelmengsel met die oorblywende blaardeegvel sodat dit mooi waterpas met die onderste vel lê. Verf die bokant van die pastei met die eierglanslaag. Sny met 'n skerp mes twee snye sowat 2,5cm van mekaar af oorlangs in die middel van die pastei af. Sny versigtig sodat jy nie deur die deeg sny nie. Sny aan die regterkant van die pastei vier skuins snye van sowat 1cm elk dwarsdeur die pasteideeg. Herhaal aan die linkerkant. Dit dien as luguitlaatkepe. Plaas die pastei oor op 'n bakplaat. Bak die pastei in die middel van die oond vir 30 minute. Verlaag die temperatuur tot 180°C en bak vir nog 30 minute, totdat die kors ryk goudbruin van kleur is (as die kors ná 45 minute se bak te donker is, kan jy dit liggies met 'n vel aluminiumfoelie bedek en voort bak). Laat die pastei vir 20 minute op 'n draadrak afkoel. Sny in vier skywe van sowat 13cm elk as hoofgeregporsies, of sny in kleiner porsies as bykos, en dien op. Laat heeltemal afkoel en verwyder uit pan.