Wednesday, 9 May 2012

Sjokolade-pekanneutkoekies







Sjokolade-pekanneutkoekies

50 ml suiker
100 ml botter of margarien, by kamertemperatuur
150 ml meel
50 ml pekanneute
sjokolade, om te versier
Die botter of margarien moet heeltemal sag wees om die koekies te kan maak. Indien jy op die ingewing van die oomblik dit maak, kan jy dit in 10 sekondes-intervalle in die mikrogolfoond sit.
Voeg dan die suiker by die botter en meng goed.
Gooi die meel bietjie-vir-bietjie by en roer totdat alles deeglik gemeng is. Kap die pekanneute so fyn as wat jy kan en voeg dit by die mengsel.
Kry dan ‘n stuk kleefwerende plastiek. Skep die koekiedeeg in die middel daarvan uit en maak dit mooi toe. Vorm nou die deeg in ‘n mooi reghoek of rol dit om ronde koekies te kan maak. Plaas dit op ‘n bord en plaas in die vrieskas vir minstens 15 minute.
Voorverhit die oond tot 180 °C.
Sny dan met ‘n skerp mes die deeg-reghoek in skyfies van ongeveer 5 mm breed. Plaas op ‘n bakplaat en bak vir 10 – 12 minute. Jy kan die koekies dunner sny as jy hulle baie fyn wil hê, bak dit dan vir net 6 minute.
Wanneer dit afgekoel het, plaas op ‘n afkoelrakkie om heeltemal koud te word.
Smelt dan ongeveer 4 blokkies sjokolade, plaas die afkoelrakkie oor ‘n bord en versier die koekies met die sjokolade.
Laat die sjokolade hard word en die koekies is gereed vir eet.

Soetkoekies

Vir gewone soetkoekies gebruik jy dieselfde resep as die sjokolade-pekanneutkoekies, maar laat eenvoudig die pekanneute weg.

Die koekies is ‘n treffer saam met warm sjokolade.

Jy kan natuurlik die resep verander deur gerasperde suurlemoen- of lemoenskil of kaneel by die deeg te voeg, of deur pekanneute of kersies in die koekies te druk net voordat jy hulle bak. Jy kan ook die gewone koekies met sjokolade besprinkel nadat hulle afgekoel het.