Beplan jy dalk ‘n buitelug troue vir die einde van die jaar, maar jou begroting is bietjie knap? Tog soek jy iets “anders”? Hier is ‘n oulike idee vir ‘n troue wat ook gebruik kan word vir einde van die jaar funksies of sommer enige funksie in die somer maande:
‘n Troue met ‘n plaas tema is deesdae ‘n goeie idee, want eerstens is dit 'n baie romantiese idee, verder kan dit jou redelik baie geld bespaar EN dis ‘n “groen” troue. (Omgewings vriendelik.) Jy kan tonne bespaar op die huur van stoele as jy jou gaste laat sit op kafbale. Kyk bietjie op die internet daar is tonne prentjies van troues waar die hele seremonie buite gehou word terwyl gaste op kafbale sit.
Vir die krapperigheid van die kaf, vir jou gaste wat dalk nie daarvan sal hou nie, het ons ‘n oulike idee. Koop mooi materiaal teen ‘n billike prys. (Loer bietjie by die materiaal winkels, jy gaan dalk ‘n winskopie of twee raakloop). Laat iemand dan vir jou die materiaal omsoom net in die regte grote om ‘n kafbaal gedeeltelik toe te kan gooi.
Jy kan dan woorde daarop laat borduur wat vir jou en jou geliefde spesiaal is of jy kan selfs net julle voorletters daarop laat borduur.
Nog ‘n idee vir ‘n troue met skakerings van pienk of pers: As jy iemand ken wat materiaal drukwerk kan doen, kan jy in die een hoek ‘n kosmos blommetjie laat druk met die woorde “Liefde Kosmos Niks” daarby.
Dit kan dan elke gas se geskenkie van julle af wees wat hulle kan huistoe neem. (Dalk een per paartjie.) Ek is seker hulle sal baie daarvan hou.
Maak miniatuur kafbale en gebruik dit soos hier bo op die foto as ‘n “ring-kussingkie”. Jy kan dit ook gebruik as plekaanwysers.
Sien daar het jy al baie gespaar en dis alles goedjies wat jy en jou familie self kan doen.