Thursday 12 January 2012

Coleus - Blare met pragtige kleur

Coleus is seker een van die plante met die mooiste en grootste verskeidenheid blaar-kleure.  Jy kry hulle in 'n groot verskeidenheid van kleur en hulle is maklike plante om te groei.  As jy 'n skadukol in jou tuin het waarmee jy raadop is, kan jy oorweeg om 'n paar soorte Coleus bymekaar te plant.  Kry 3 of 5 verskillende kleure en plant hul sommer deurmekaar om 'n groot impak in jou tuin te maak.


Hierdie plante groei goed in skadu of gedeeltelike skadu.  Daar is selfs van hulle wat heel goed vaar in volson, maar as jy in 'n warm streek bly is diepskadu ook 'n opsie om hulle teen die son te beskerm.  (Hulle kan ook as huisplante ingespan word en is oulike houerplante vir 'n stoep. )
Om steggies van hierdie plante te maak is baie maklik.  Jy kan enige tyd van die jaar 'n takkie afbreek en in die grond druk.  Dis so maklik soos dit.
Plantjies word maklik in toom gehou deur sommer te vinger-snoei.  In die verbyloop, pluk sommer die top puntjies van die plantjie af of snoei die puntjies korter om dit mooi in vorm te hou.  Dit sal ook help dat die plantjies welig groei.