Beslag
810ml witbroodmeel
10ml fyn kaneel
10ml fyn gemengde speserye
5ml sout
...1 pakkie droë kitsgis (Lees altyd die datum op die gispakkie om seker te maak dis vars.)
60ml strooisuiker
80ml koue botter, in blokkies gesny
1 groot eier, liggies geklop
300ml warm melk
65ml rosyne
65 ml sultanas
30ml korente
30ml gekapte sitrusskil
90ml koekmeel
Glaseersel
60ml melk
45ml strooisuiker
1 Sif die broodmeel en speserye saam in 'n groot bak. Gooi die sout, gis en suiker by en vryf die botter in. Meng die eier en melk en roer dit geleidelik by die droë bestanddele om 'n ferm deeg te maak.
2 Knie vir 10 minute met die hand of gebruik die deeghaak van 'n voedselverwerker. Sit die deeg in 'n liggies gesmeerde bak en bedek met 'n klam vadoek. Laat dit eenkant in 'n warm plek rys tot die mengsel dubbel die oorspronklike grootte is. Keer die deeg op 'n liggies meelbestrooide oppervlak uit en knie die vrugte in.
3 Verdeel die deeg in 12 stukke en rol elkeen in 'n bol. Pak die bolletjies op 'n bakplaat. Bedek en laat weer eenkant rys tot die bolletjies dubbel die oorspronklike grootte is. Meng die koekmeel en 50ml water om 'n pasta te vorm. Skep die pasta in 'n spuitsak en spuit 'n kruis bo-oor elke bolletjie.
4 Bak in 'n voorverhitte oond op 200 °C vir 25 tot 30 minute of tot goudbruin en deurgaar. Haal uit die oond uit. Meng die glaseersel-bestanddele met 60ml water en smeer dit oor terwyl die bolletjies nog warm is. Eet die broodjies warm, of sny dit middeldeur, rooster dit en sit voor met botter.
Wenke vir die perfekte bolletjies
Laat die deeg op 'n warm plek rys, maar moenie dit in die oond sit nie - te veel hitte sal die gis doodmaak. Knie dit deeglik vir die volle 10 minute en laat die deeg tot dubbel die oorspronklike grootte rys om te verseker dat die bolletjies 'n ligte tekstuur het.
Wissel die geurmiddels na smaak af. Voeg 200 g droëvrugte-koekmengsel by of gebruik 100g rosyne of sultanas saam met 100 g gekapte droëvrugte soos appelkose of pere. Voeg 15 ml gekapte ingemaakte gemmer of 5 mlgerasperde suurlemoen- of lemoenskil by vir nóg geur.
As jy van 'n ligter speserygeur hou, kan jy net 5ml van elke soort gebruik. As jy dit ekstra-sterk wil hê, kan jy 15ml van elke spesery byvoeg.
Glaseer die bolletjies sodra dit uit die oond kom en laat dit afkoel tot louwarm. Hulle smaak die lekkerste op die dag dat jy hulle bak. Oorskiet-bolletjies kan gevries word. Pak dit in 'n lugdigte plastiekhouer sodra dit heeltemal afgekoel is en bêre in die vrieskas tot jy dit nodig kry. Laat dit by kamertemperatuur ontdooi en sit dit net voor etenstyd vir 10 tot 15 minute in die oond of onder die oondrooster sodat dit deurwarm word.
(Resep van ons ou blad op fb)