Die lekkerte van jou eie vyeboom in jou tuin, is vir my onbeskryflik. OK ek moet erken ek is heeltemal gek oor die reuk van vyekonfyt wat op die stoof kook.
'n Vyeboom kan enige tyd van die jaar geplant word.
Hou in gedagte dat 'n vyeboom redelik groot kan word. Jy kan egter volgens die kenners 'n gat uitvoer met baksteen of beton en die boom daarin plant om sy groote te beperk. Hul riglyn is 'n gat van 60x60x60cm vir 'n boom wat dan nie groter sal word as ±2.4m wyd en 5m hoog nie. Natuurlik kan jy hom ook jaarliks snoei om hom die regte hoogte en vorm te laat behou.
Hulle is regtig nie vol fiemies nie, maar hou van heelwat water en jy sal beslis die vrugte moet beskerm teen voëls. Dit kan jy maklik doen deur 'n net bo-oor die boom te gooi sodra die vrugte begin vorm.
Geniet die oes uit jou tuin en kook vyekonfyt vir vriende, familie en eie gebruik. Dis mos kos....