Thursday 30 June 2011

Goedkoop dekor idee

Vandag wil ek 'n paar idees gee vir goedkoop dekor.  As jy nie die duisende rande het om uit te gee op duur kunswerke nie en daardie groot oop muur loer elke dag vir jou, is hierdie geselsie dalk net vir jou.

Deesdae kry mens by die skryfbehoefte winkels wit "canvas blocks" te koop.  (Dis nou die wit materiaal borde waarop mens kan verf - kom ons noem dit Canvas blocks - dink meeste mense sal verstaan wat ek bedoel.)

Hierdie blokke kan oorgetrek word met oulike materiaal wat jy raakgeloop het in dieselfde kleure as die bepaalde vertrek waarin jy dit wil hang.  Trek eenvoudig die materiaal oor die blok en kram of gom dit agter vas.  Jy hoef geen kenner of diy-fundi te wees nie.  Niemand gaan sien hoe jy aan die agterkant "geknoei" het nie, so probeer dit.  Jy kan dalk 'n paar in verskillende materiale bymekaar groepeer op een muur.

Vir 'n kinder kamer kan jy die seun of dogter se naam self verf.  'n Blok per letter van die naam.  Doen dit in mooi helder kleure.  En vir 'n babakamer kan jy die blokke oortrek met mooi pastel kleur materiaal en dan dalk 'n foto van die baba op elke blok vas steek met 'n helder strikkie.  Of as jy bietjie meer geld kan spandeer, laat druk 'n paar fotos wat jy geneem het in wit en swart op wit materiaal en trek dit dan oor.  Hierdie unieke kunswerk is dan heeltemal jou eie.