Tuesday 7 June 2011

Die geheim - Vrugtebome in jou tuin - dis moontlik.

As jy nog altyd gedroom het daarvan om 'n vrugteboom in jou tuin te hê waarmee jy kan spog, is dit nou jou kans.  Dis so maklik en daar is regtig soveel vreugde wat jy daaruit kry om jou eie vrugte te pluk.

In ons tuin is daar seker, as ek so vinnig moet tel, maklik 15 verskillende soorte vrugtebome en dan is daar nog die druiwe ook.  En die lekkerste is as die bome vol vrugte sit en mense "oe" en "aaaah" wanneer hul kom kuier of verby loop. (En net so vir die kennisname - ons het eintlik 'n klein tuin - hy kwalifiseer nie as groot in die tuin boeke nie.)

Junie maand is 'n goeie maand om nuwe bome te plant. 

Dis so maklik. 
Jy kan dit in die grond direk plant:  Die gat wat jy maak moet ± 1m by 1m wees.  Jy kan beenmeel onder in die gat gooi, maar meng dit met die grond en gooi die boom baie goed nat wanneer jy hom plant.
As jy 'n klein tuin het, is die ander opsie om hom in 'n pot te plant.  Veral sitrusbome lyk baie oulik in potte. 

So die geheim is eintlik:  Kies 'n boom, grawe 'n gat, sit hom daarin en gee hom tonne water.  Siedaar so maklik soos dit.  Jy het geen spesiale unieke kennis nodig om jou vrugteboom te plant nie.  As jy steeds skrikkerig is, begin met 'n sitrusboom - ek sou dink dis een van die maklikste bome om mee te begin - selfs vir ons beginner tuiniers soos ek en jy.....

Komaan begin dink hoe oulik daardie boom in jou tuin gaan lyk:  Lemoenboom, naartjieboom, pomelo, pruime, appels, kweper, perske, koejawel, vye, druiwe, lemmetjie, olyfboompies of dalk 'n lourierblaar boompie wat jy mooi kan snoei en die blare dan in die kos kan gebruik......?  Daar is soveel keuses.  Hulle wag net vir jou, maar maak hierdie jaar die jaar wat jy jou eie vrugteboom in jou tuin plant.  Doen dit nou.