Pages

Thursday, 19 June 2014

Mikrogolf Sjokolade-en-kersie Poeding




Mikrogolf Sjokolade-en-kersie Poeding
Hierdie poeding is vir ons gemaak deur Jean Engelbrecht wat al boeke geskryf het oor mikrogolf kookkuns.
(Bedien 4-6)
Beslag
½ k sagte botter (125g)
½ k sagte bruinsuiker
2 groot eiers, liggies geklits
1 k bruismeel (120g)
½ t bakpoeier
4 e warm water (60ml)
3 e kakao (45ml)
Sous
¾ k sagte bruinsuiker (190 ml)
2 e kakao
1½ k kookwater
Begin met die beslag. Room die botter en suiker tot lig en donsig. Voeg die eiers geleidelik by en meng goed.
Meng die bruismeel en bakpoeier en vou in. Meng warm water en kakao tot die kakao opgelos is en voeg by die mengsel. Roer deeglik.
Smeer ‘n 20cm (ten minste 10cm diep) vuurvaste bak liggies en skep die deeg lepelsgewys daarin.
Nou vir die sous. Meng die suiker en kakao en strooi ligges oor die  beslag in die bak. Gebruik die agterkant van ‘n staal lepel en gooi die kookwater versigtig oor die beslag. (Moenie meng nie!)
Plaas in mikrogolf, onbedek, op 50% (medium) krag vir 15 minute. Toets na 10 minute of dit gaar is. Moenie te lank bak nie.
Bedien met geblikte swart kersies en room
Vir afwisseling:
Vervang die swart kersies met ½ k geblikte karamel wat op 100% (hoog) vir 1 minuut in die mikrogolfoond gekook is. Drup oor die nagereg net voor jy dit opdien.