Pages

Monday, 20 October 2014

Tertdoppies




Tertdoppies


Maak: 24-30 (afhangend van grootte)
Bereidingstyd: 45 minute
Oondtemperatuur: 180 °C
Baktyd: 15 minute
• 250 g botter
• 150 ml suiker
• 2 eiers
• 750 ml koekmeel
• 10 ml bakpoeier
• knippie sout
1 Voorverhit die oond. Smeer 2-3 tertpannetjies.
2 Room die botter en suiker saam tot lig en donsig. Klits die eiers een-een by.
3 Sif die koekmeel, bakpoeier en sout saam en voeg dit by die eiermengsel. Meng dit tot ’n sagte, hanteerbare deeg.
4 Rol die deeg uit tussen twee lae plastiek en sny dan ronde deegsirkels om in jou gesmeerde tertpannetjies te pas. Prik die deeg. Bak in ’n voorverhitte oond vir sowat 15 minute of tot goudbruin en gaar.
Idees vir vulsels
1 Klop room styf en vul die doppies daarmee. Dreineer ’n blik pere in stroop en sny die pere in skyfies. Sny gepreserveerde gemmer in stroop ook in skyfies en pak dit saam met die peerskyfies op die geklopte room. Drup gesmelte sjokolade oor en sprinkel laastens geroosterde neute oor.
2 Meng 125 g elk gekrummelde bloukaas en gladde maaskaas. Klop 125 ml room styf en vou dit by. Skep dit in die doppies. Sny dadels of groenvye in skyfies en rangskik dit bo-op. Sprinkel laastens geroosterde okkerneute of pekanneute bo-oor.
3 Vul dit met heerlike sjokolade-ganache. Smelt 250 ml room en 200 g donkersjokolade saam en laat dit effens afkoel. Skep die tertdoppies sowat halfvol met die vulsel en vul die doppies verder met bloubessies of frambose.
4 Gebruik jou gunstelingmelktertvulsel en vul die doppies daarmee.
5 Suurlemoensmeer bly ’n staatmaker. Koop ’n bottel vol by ’n deli of supermark en vul die doppies met dié suur smakie. Garneer dit met ’n lepel vol geklopte room.
6 Sprinkel suurlemoensmeer met ’n lagie suiker en karamelliseer met ’n blaasvlam om ’n bros lagie te vorm. Sprinkel granaatpitte oor.
7 Geklopte room, karamel en piesang met ’n bietjie neute oorgesprinkel is altyd gewild.
8 Jy kan ook klein suurlemoenskuimtertjies maak: Gebruik jou gunstelingresep vir die vulsel, skep dit in die doppies en bak dit in die oond totdat die meringue goudbruin bo-op is.
9 Sny vars vye in die helfte en panbraai hulle vinnig in ’n bietjie botter tot goudbruin. Vul die doppies met mascarpone (jy kan dit effens versoet met strooisuiker en selfs vanieljesaadjies byroer as jy wil). Plaas 1-2 vye bo-op en drup laastens ’n bietjie heuning bo-oor.