Pages

Friday 7 April 2017

HASIEKOEKIES MET GLANSVERSIERSEL



BASIESE KOEKIEDEEG

Lewer sowat 24 koekies, afhangend van die grootte
Bereidingstyd: 30 minute, plus rustyd
Baktyd: 10–15 minute per plaat...
Oondtemperatuur: 180 °C

• 250 g botter, sag
• 130 g (250 ml) Huletts Icing Sugar, gesif
• 1 eier, geskei
• 2 ml vanieljegeursel
• 375 g (670 ml) koekmeel, gesif

1. Klits die botter en versiersuiker saam tot lig en romerig. Voeg die eiergeel en vanieljegeursel by en meng goed. Voeg die meel by en meng tot ’n sagte, kniebare deeg. As die mengsel te droog voel, meng die eierwit bietjie vir bietjie by tot dit die regte tekstuur het. Vorm dit in ’n plat sirkel, bedek met kleefplastiek en laat rus vir 10 minute in die yskas.

2. Rol die deeg uit op ’n oppervlak wat liggies met meel bestrooi is en druk vorms van jou keuse uit. Sit die koekies op gesmeerde bakplate en bak in ’n voorverhitte oond vir sowat 10–15 minute tot effens verkleur. Laat die koekies op ’n draadrak afkoel en bêre in ’n lugdigte houer.

HASIEKOEKIES MET GLANSVERSIERSEL

• 18 hasievormige vanieljekoekies
• reënboog-strooisel
• pienk vermicelli

GLANSVERSIERSEL

• 1 eierwit
• sowat 250 ml Huletts Icing Sugar, gesif

1. Vir die glansversiersel, klits die eierwit tot skuimerig. Voeg die versiersuiker ’n lepel op ’n slag by en meng tot dit die regte dikte is. Indien jy wit en pienk versiersel wil hê, verdeel die mengsel in twee en meng ’n lepel vol Huletts Strawberry Flavoured Icing Sugar by een helfte in.

2. Versier die hasiekoekies met ’n spuitsak met ’n klein punt. Rond die hasie-ore af met die vermicelli en reënboogstrooisel voor die versiersel heeltemal hard is. Laat dit dan verhard en bêre in ’n lugdigte houer.

Wenk Vir aarbeigeur-hasies, vervang die Huletts Icing Sugar in die deeg met Huletts Strawberry Flavoured Icing Sugar.