Pages
▼
Friday, 27 May 2016
PAMPOEN BESKUIT
PAMPOEN BESKUIT
Pampoen gee dié beskuit ’n oranje kleur. Jy proe dit nie juis nie, maar dit gee ’n effens soeter smaak
(sowat 36 stukke)
1 kg (1 800 ml) bruismeel
5 ml sout
500 g (540 ml) botter
400 g (500 ml) suiker
250 ml karringmelk
250 ml pampoen-puree (sien onder)
2 eiers
METODE:
Verhit jou oond tot 180 °C.
Gooi die bruismeel en sout in ’n groot mengbak.
Sny die botter in blokkies en vryf dit in die meel in totdat die mengsel soos broodkrummels lyk. Voeg die suiker by en meng goed.
Klits die karringmelk, pampoen-puree en eiers saam.
Voeg by die meelmengsel en meng goed.
Gooi in gesmeerde broodpanne (gebruik 2 broodpanne van so 18 x 12 cm groot) en bak vir sowat 1 uur, of tot gaar.
Toets met ’n toetspen – maak seker dit kom droog uit. Laat afkoel voor jy die beskuit in vingers sny of breek. Sit die gesnyde beskuit op bakplate en laat vir sowat 8 uur uitdroog teen 120 °C.
Ek droog my beskuit gewoonlik oornag uit.
PAMPOEN PUREE:
Ek koop sommer gesnyde pampoen by die supermark hiervoor.
Pampoen-puree moet lyk soos baie gladde babakos.
(sowat 500 ml pampoen-puree)
500 g gesnyde pampoen
ekstra water indien nodig
METODE:
Stoom of kook die pampoenstukke tot gaar.
Laat die pampoen effens afkoel en verpulp dit in jou versapper of voedsel-verwerker.
Ek vind dat ’n versapper ’n baie gladder puree gee. Voeg ’n klein bietjie water by indien nodig.