Pages

Monday, 16 May 2016

Kaas-en-spek soufflé




Kaas-en-spek soufflé

Al wat jy nodig het is
4E botter
4E koekmeel
1¼ koppie warm melk
¼ koppie vars room
2 koppies sterk verouderde Cheddar-kaas (koop die beste wat jy kan kry, hoe sterker hoe beter), gerasper
½t sout
½t Dijon-mosterd
½t vars tiemie, gekap
4 ekstra groot eiers (NB: teen kamertemperatuur)
200g spek, gekap en gebraai tot gaar
4E winkel uie-marmelade (jy kan jou eie maak, maar die hele idee hier is maklik en vinnig)
Vir jou soufflé bakkies: Smelt botter en borsel die kante en bodem van die soufflé bakkies daarmee. Gooi broodkrummels in elke bakkie en maak seker die hele bakkie is gevoer met die krummels. Skud enige oortollige krummels liggies uit. Sit bakkies opsy.
Skei die eiergele en eierwitte. Smelt 4E botter in ’n dikbodempot en gooi die koekmeel by. Roer deur en kook op ’n lae hitte vir ’n minuut. Gooi geleidelik die warm melk en room by terwyl jy deurentyd klits om klontjies te verhoed. Kook oor ’n lae hitte vir tien minute en hou aan roer. Verwyder sous van die hitte af en voeg die kaas, tiemie, sout en mosterd by. Roer tot die kaas gesmelt is. Klits en roer nou die eiergele by tot die sous satynglad is. Sit opsy.
Klits die eierwitte tot hulle styf is. Vou drie groot eetlepels van die eierwitte by die kaassous in. Vou dan die res van die eierwitte versigtig in. Die sleutelwoord hier is ‘vou’, nie ‘roer’ nie! Jy wil soveel van die lug as moontlik behou om te verseker dat jou soufflé veerlig is. Sit ’n eetlepel van die uie-marmalade in elke soufflé bakkie, sowel as 50g gebraaide spek. Maak die soufflé bakkies vol met die eiermengsel. Gebruik jou duim om ’n keup alom die rand van die mengsel te trek. Dit help dat die soufflé eweredig en fraai rys.
Sit die soufflé bakkies op ’n warm bakplaat in ’n voorverhitte oond teen 200 grade Celsius. Die kooktyd sal afhang van hoe groot die bakkies is. Hierdie resep maak vier hoofmaal-grootte individuele soufflés en het 17 minute in die oond gevra. Soufflés in kleiner bakkies kan so min as 12 minute nodig hê en een groot een so 35 minute. Hou dit dop, as dit opgepof en mooi bruin is, is dit reg. Bedien die soufflé onmiddellik!
 
Kombuisgodin: Jy kan die kaassous die vorige dag maak, met kleefplastiek bedek en in die yskas sit. Doen dieselfde met die ongeklitste eierwitte. Haal uit en laat die sous en eierwitte kamertemperatuur bereik. Klits dan die eierwitte, voeg dit by die kaassous en hy’s reg vir die oond.
 
Nog idees:
  1. Jy kan die spek en uie heeltemal uitlos en net n basiese kaas-soufflé maak.
  2. Speel met die kaas en vervang van die Cheddar met Parmesaan of Pecorino.
  3. Speel met kruie en voeg hope pietersielie of grasuie (chives) by die mengsel in plaas van die spek en uie.