Pages
▼
Tuesday, 1 December 2015
LEMOENVLA TRIFLE
LEMOENVLA TRIFLE Lemoenvla smaak minder suur as die tradisionele suurlemoenvla (curd). Maak die trifle vir jou gaste of gebruik die lemoenmengsel as vulsel vir terte en koeke.
Genoeg vir 6
80 ml vars lemoensap
4 eiers, geskei
100 g (125 ml) suiker
85 g (90 ml) botter
1 x 280 g-madeirakoekbroodjie
210 g (250 ml) strooisuiker
METODE:
Plaas lemoensap, eiergele, suiker en botter in middelslagpot en verhit oor matige hitte terwyl jy heeltyd met’n houtlepel roer. Hou aan roer tot botter gesmelt is en mengsel verdik soos witsous. Moenie die mengsel laat kook nie, anders sal dit skif. (Dit neem sowat 8 – 10 minute om te verdik.)
Gooi mengsel in ’n skoon bak en plaas bakpapier direk op die mengsel. Laat afkoel in yskas.
Sny koek in dun skywe en verdeel tussen 6 glase of pak in een groot bak. Skep lemoenvla bo-op.
Klits eierwitte met elektriese menger tot stywe punte vorm terwyl jy strooisuiker geleidelik byvoeg. Hou aan klits tot blink. Skep mengsel in spuitsak met stertuit en spuit bo-op lemoenvla.
Gebruik kombuisblaasvlam en brand bruin of bak vir 2 minute onder oond se roosterelement. Sit voor.