Pages

Wednesday, 25 June 2014

Mexikaanse omelet



Mexikaanse omelet
Jy het nodig (vir 2 porsies):
3 eetlepels olie...
1 ui, gekap
1 knoffelhuisie, gekap
1 soetrissie, in blokkies gesny (gebruik verkieslik ’n rooi soetrissie, maar ’n groene of gele sal ook werk)
2 middelslag-tamaties, in blokkies gesny (of die helfte van ’n 400 g-blik tamatiesmoor)

1 teelepel gedroogde origanum
1 teelepel gedroogde basiliekruid
1 teelepel suiker
2 lourierblare
4 eiers
sout en swartpeper
2 eetlepels growwe maaskaas of ½ koppie fetakaasblokkies
2 teelepels basiliepesto
Dan maak jy só:
Verhit die olie in ’n groot pan.
Braai die ui en knoffel tot die ui sag is en voeg dan die res van die bestanddele by (buiten die eiers, kaas en pesto) en prut vir 10-15 minute oor lae hitte met ’n deksel op.
As die sous te droog lyk, gooi ’n bietjie kookwater by sodat dit lekker souserig is.
Gebruik die agterkant van ’n lepel en maak vier holtes in die sous.
Breek ’n eier in elke holte, sit die deksel op en bak die eiers totdat dit gaar is na smaak.
Sprinkel sout en swartpeper oor na smaak, en skep lepels vol maaskaas of die fetakaas en klein bietjies van die basiliepesto bo-op.
Sit dan sommer die pan op die etenstafel en skep die gereg uit die pan op snye roosterbrood (of tortillas, as jou oupa se naam Carlos María Eduardo García de la Cal Fernández Leal Luna Delgado Galván Sanz was).
VARIASIE:
Jy kan ook skyfies advokadopeer op die gereg sit.
As jy lus is vir vleis by die gereg, sny wors in by die sous.
(Weg)