Pages

Wednesday, 11 June 2014

Pastei met geroosterde groente en kaas




Pastei met geroosterde groente en kaas

Genoeg vir: 6-8
Bereidingstyd:
1 uur
Gaarmaaktyd:
50-60 minute
Oondtemperatuur:
200 ̊C

Groente
• 1 klein rooi en 1 klein geel soetrissie, ontpit en in blokkies gesny
• klein ui, geskil en in wiggies gesny
• 1 klein eiervrug, in blokkies
• 4 babaskorsies, middeldeur gesny
• 30ml olyfolie

Deeg
• 500ml koekmeel
• 2ml sout
• 150g koue botter, in blokkies gesny
• 50 ml fyngerasperde parmesaan
• 45ml yskoue water

Vulsel
• 60ml pesto van jou keuse
• 200g kaas van jou keuse, in blokkies gesny of gekrummel (beleë cheddar, feta, bloukaas of bokmelkkaas werk goed)
• 1 groot eier, liggies geklop

1 Groente Sit al die groente in ’n oondroosterpan. Drup die olyfolie oor en meng goed om te bedek. Rooster in ’n voorverhitte oond vir sowat 20 minute tot net sag. Meng en roer een keer tydens die oondtyd. Haal uit die oond en laat heeltemal afkoel.
Vegetable pie Step 1

2 Deeg Sif die koekmeel en sout. Vryf die botter met jou vingerpunte in tot die mengsel soos growwe broodkrummels lyk. Voeg die parmesaan by. Voeg dan die water bietjie-bietjie op ’n slag by en meng tot die deeg ’n bal vorm. Bedek met kleefplastiek en sit vir 30 minute in die yskas. Haal uit die yskas uit en laat staan by kamertemperatuur tot dit effens sagter raak. Rol op ’n oppervlak wat liggies met meel bestrooi is uit in ’n groot sirkel van sowat 5mm dik. Rol die deeg om ’n deegroller op en rol dit dan weer liggies op ’n gesmeerde bakplaat af.
Vegetable pie Step 2

3 Vulsel Sit die groente in ’n mengbak en voeg die pesto en kaas by. Meng om te bedek. Geur na smaak met sout en vars gemaalde swartpeper.
Vegetable pie Step 3

4 Smeer die vulsel op die deeg en laat ’n rand van 3cm rondom die deeg oop. Vou die rande van die deeg op oor die groente. Smeer die geklopte eier aan. Bak in ’n voor- verhitte oond by 200 ̊C vir sowat 30 tot 40 minute tot die deeg goudbruin en krakerig is.
Vegetable pie Step 4

Kookwenke
• Probeer om die deeg nie te veel te hanteer nie. Sodra dit aanmekaar kleef, moet jy dit met kleefplastiek bedek sodat dit nie uitdroog nie en dit vir sowat 30 minute in die yskas sit. Laat die deeg eers kamertemperatuur bereik voordat jy dit uitrol, want dit sal moeilik werk as dit koud en hard is.
• Jy kan ander groente gebruik as jy wil. Probeer blokkies botterskorsie of patat. Maak seker dat die groente behoorlik afgekoel het voordat jy dit op die deeg skep. As dit te warm is, kan dit die deeg laat smelt en dit stukkend maak.
• Voeg ’n paar olywe by vir ekstra smaak, of gebruik gedreineerde geblikte artisjokke of gedreineerde gemarineerde sondroogtamaties.
• Jy kry flessies pesto in die pasta-afdeling van jou supermark, of vars pesto in die deli-afdeling. Pesto van basilie, roket, sondroogtamatie of geroosterde rooi soetrissie sal alles lekker smaak in dié pastei.

(Idees)