Tuesday 11 October 2016

Raak so ontslae van goggas wat jou plante vreet




Raak so ontslae van goggas wat jou plante vreet

Koringkrieke: Koringkrieke lyk dalk soos aaklige insekte, maar eintlik is hulle baie voordelig in die tuin, want hulle vreet slakke en naakslakke. Sluggem-slakgif maak hulle dood.

Slakke en naakslakke: Die slymvoete vreet snags, en veral in klam toestande, soos ná ’n reën....

Deur fungemaalde eierdoppe te strooi werk beslis, omdat die slakke sukkel om daaroor te beweeg – jy moet dus genoeg eierdoppe strooi om hulle te stuit. Strooi ’n deklaag van growwe klipsplinters of skulpe om delikate plante.

Nog ’n boereraat wat jy kan probeer, is ’n houer met bier – dit sal hulle lok en hulle sal doodgelukkig in die bier versuip. Jou beste opsie is ’n organiese doder soos Ferramol-korrels in die groentetuin.

Brandnetels maak ook ’n uitstekende spuitmiddel teen slakke en donsige skimmel uit. Pak ’n emmer vol heel brandnetelplante. Bedek met water en laat staan vir twee weke. Verdun een deel van die vloeistof met vier dele water, en spuit.

Gebruik slaklokaas in korrelvorm, of ’n vloeibare spuitstof vir naakslakke. Jy kan ook 5 ml droë gis, 5 ml suiker en een koppie warm water in ’n vlak bakkie meng – sit dit saans uit.

Sprinkane: Sprinkane is vandag nog net so verwoestend soos in die Bybelse tyd en kan kosbare plante helder oordag van álle blare en blomknoppies stroop.

Spuit of strooi gereeld ’n kontak-gif in vloeistof- of poeiervorm as die insekte aktief is in jou tuin. Vir ’n natuurliker oplossing: Meng een deel water en een deel paraffien of diesel in ’n blikkie. Vang die vabonde en versuip hulle in die mengsel.

Blomkewers: Blomkewers het ’n klipharde skild en is waar-skynlik die mees gehate insekte wat in die vroegsomer toesak om rose en sagte tuinblomme in ’n kits te verorber.

Vang die vuilgoed en knip hulle middeldeur met jou snoeiskêr – hulle is dikwels net tydelik bewusteloos as jy op hulle trap. Blomkewers het ’n voorliefde vir geel blomme en sap-pige vrugte – lok hulle deur geel plastiekstroke aan bome te hang met ’n koffieblik vol water en diesel onder dit. Die insekte is redelik lomp en versuip gewoonlik in die blik.

Astylus-kewers: Dié geel-en-swart derduiwels lê graag weg aan stuifmeel en beskadig só die blomme en potensiële vrugte-oes. Verdrink hulle in ’n mengsel van water en paraffien.

Ruspes: Maak ’n koolruspepoeier deur twee hande vol houtas, twee hande vol meel en ’n halfkoppie sout te meng. Strooi dit oor die plante om die ruspes te dood.

Plantluise: Dié sagte grasgroen tot swart insekte verskyn in groot getalle op sytakkies, groei-punte of blomknoppe, tap die plantsap en veroorsaak gekrulde blare en swak groei.

Span ’n sistemiese insek-doder in wat die plant binnedring en só alle sapsuigers uitwis.

Plantluise verskyn gewoonlik in die lente – spuit hulle met ’n sterk straal water af sodra jy hulle gewaar, óf spuit die plante met ’n mengsel van 2 liter water en 10 ml vloeibare opwasmiddel. Plantluise haat ook kappertjies – plant gerus plate van dié blomme onder vrugte- of roosbome.

Jy kan ook ’n kappertjie-spuitstof maak deur twee hande vol vars kappertjieblare vir 15 minute in 500 ml kookwater te laat trek. Gebruik tien druppels van die aftrek-sel saam met 1 liter water om die plante te spuit.

Lelieboorders: Hierdie wurms het geen natuurlike vyande nie en moet chemies beheer word. Hulle het ’n voorliefde vir inheemse en eksotiese bolplante en saai algehele verwoesting. Gebruik ’n sistemiese insekdoder wat die hele plant deurtrek. Die wurms is van September tot April aktief.

Plantluise, miere, kewers en ruspes: Knapsekêrels is ’n jaar-onkruid met trossies gepunte swart saadjies – ons almal het dit al teen ons broekspype gesien vassit. Dit werk uitstekend in ’n spuitmiddel wat insekte verdryf of doodmaak, en so keer dat jou plante gevreet word. Spuit dit teen plantluise, miere, kewers en ruspes. Jy gebruik al die plantdele, veral die ryp sade, in die spuitmiddel. Kap die plantdele en bedek dit saam met die sade met water. Kook dit tien minute (of week dit 24 uur) lank, laat dit afkoel en voeg dan een liter water en ’n teelepel seep daarby. Skud goed en spuit dadelik.

Alskruid (Artemesia absinthum) in ’n tee verdryf plantluise, vlooikewers, vlieë, koolwitjies en naakslakke; jy kan dit ook in jou huisdiere se bad gooi as hulle las van vlooie het. Maak ’n tee deur een liter kookwater oor ’n hand vol alskruid te giet.
Wat as ek nie weet wat my plante vreet nie?

Vir iemand wat nooit seker is watter plaag dit is wat die skade aanrig nie:
•’n Slak vreet tussen die blaarare en los ’n “sif”
• ’n Besie vreet gate van verskillende groottes op verskillende plekke in die blaar
•’n Ruspe vreet die blaar van buite af binne toe dat net ’n paar hoofare oorbly.



Veiligheid eerste!

• Gebruik plaag- en onkruid-doders met ontsag. Baie soorte is skadelik vir mense en diere en maak ook vriendelike insekte soos liewenheersbesies, bye en hottentotsgotte dood.

• Hou by die aanbevole dosis op die verpakking.

• Dra altyd beskermende klere en handskoene as jy met gifstowwe werk en moenie eet, drink of rook terwyl jy spuit nie.

• Spuit altyd op windstil, droë dae, ver-kieslik vroegoggend of laatmiddag.

• Hou alle tuinmiddels buite die bereik van kinders en troeteldiere.

(Tuis)