Monday 14 December 2015

15 Sout en 15 Soetterte





                   15 Sout en 15 Soetterte

SOUTTERTE

1.  KORSLOSE HAM EN KRUIE SOUTTERT


250 ml gekapte pietersielie                                          125 ml gekapte sprietuitjies

62 ml gekapte oreganum                                             150 g gaar ham, in blokkies gekap

3 eiers                                                                          250 ml melk of joghurt

5 ml sout                                                                     2,5 ml vars gemaalde swartpeper

30 ml botter                                                                 250 ml vars broodkrummels

125 ml gerasperde kaas

 

Kap die kruie baie fyn in 'n voedselverwerker.  Voeg die ham by en kap grofweg.  Voeg die eiers, melk, sout en peper by en meng net deur.  Smeer 'n ronde tertbord van 25 cm in deursnee mildelik met botter.  Sprinkel die helfte van die broodkrummels in die bak.  Kantel en skud om die kante en boom goed te bedek.  Gooi die eiermengsel in die bak.  Smelt die orige botter, voeg die res van die broodkrummels by, en meng deur.  Voeg dan die kaas by en meng deur.  Sprinkel die krummel mengsel oor die eiermengsel in die bak.  Bak 30 minute lank by 180C tot net gestol en effens goud bruin bo-op.

 

2. 


 

3.  EIER SOUTTERT


4 tamaties geskil, en in dik skywe gesny                                1 ui, fyn gekap

25ml vars pietersielie, fyn gekap                                             6 hard gekookte eiers, afgedop, in skywe gesny

50ml droë broodkrummels                                          12.5ml botter of margarien

6 eiers, geklits                                                             5ml sout

1ml varsgemaalde swartpeper                                     250ml room

100ml bier                                                                   1ml rooipeper (opsioneel)

 

Voorverhit die oond tot 180C.  Rangskik die tamatieskywe op die boom van ‘n goed gesmeerde oondskottel. Strooi die ui en pietersielie oor die tamatieskywe en rangskik die eierskywe bo-op.  Strooi die broodkrummels oor die eierskywe en stip dit met die botter of margarien.  Klits die res van die bestanddele saam en gooi dit versigtig oor die inhoud van die oondskottel.  Bak dit 45-50 minute lank op die middelste oondrak totdat dit ferm is.  Bedien dit warm met ‘n mengelslaai.

4.  SPEK EN TAMATIE TERT


250ml koekmeelblom                                                  250ml gerasperde kaas

5ml bakpoeier                                                              5ml mosterdpoeier

knypie rissiepoeier                                                       120g harde botter/margarien, gerasper

2 eiers, geklits                                                             250ml melk

2 spekrepe, gekap                                                        2 tamaties, sap en pitte uitgedruk

suurdeegekstrak (Marmite)

 

Meng meel, helfte van kaas, bakpoeier, mosterdpoeier, mosterdpoeier en rissiepeper.  Voeg gerasperde botter of margarien by.  Meng eiers en melk en voeg by.  Roer met ‘n mes.  (Die beslag sal sag en klonterig wees)  Skep in ‘n tertbord en bak vir 10 minute lank by 180C.  Verlaag temperatuur tot 160C en bak nog 10 minute lank.  Braai intussen die spek totdat die vet begin uitbraai, voeg tamatie by en roerbraai tot effens verlep.  Smeer ‘n bietjie Marmite oor warm tertkors en skep tamatie, spek en res van kaas daarop.  Plaas 5 minute lank terug in oond of onder die oondrooster om kaas te smelt.  Sit warm voor.

 

5.  SUIKERMIELIE EN SPEKTERT


KORS:

750ml koekmeelblom                                                     5ml sout

250ml margarien                                                            2 eiergele, geklits

250ml room                                                                   8ml kremetart

 

VULSEL:

25ml margarien                                                              40ml koekmeelblom

300ml warm melk                                                           sout en peper na smaak

knippie rissiepoeier                                                       2ml mosterdpoeier

100ml Cheddarkaas, gerasper                                        410g(1 blik) geroomde suikermielies

10 swoerdlose spekvleisrepies

 

Kors:

Sif die koekmeelblom en sout saam en vryf die margarien met die vingerpunte in.  Meng die eiergele en room goed en voeg dit by die koekmeelblommengsel.  Maak dit aan tot ‘n stywe deeg.  Rol die deeg dun uit en strooi die kremetart bo-oor.  Vou die deeg in drie en verkoel dit in die yskas.

Rol dit weer dun uit en voer ‘n gesmeerde tertbord met ‘n deursnee van 200mm daarmee uit.

 

Vulsel:

Smelt die margarien, voeg die koekmeelblom by en roer tot glad.  Voeg die melk, sout, peper en rissiepoeier en mosterdpoeier by en roer oor lae hitte totdat die sous dik is.  Verwyder van die hitte en vou die helfte van die kaas en suikermielies in.  Snipper 5 van die spekvleisrepies en braai dit tot bros.  Voeg dit by die suikermieliemengsel en meng.  Skep die vulsel in die rou tertkors, maak dit gelyk bo-op en strooi die res van die kaas bo-oor.  Garneer die tert met die 5 heel spekvleis repies Bak die tert 30 minute lank in ‘n voorverhitte oond by 190C. Bedien die tert warm.

 

6.  KAAS EN HAMTERT


30 ml botter                                                                 30 ml koekmeel

10 ml gegeurde seesout                                               'n knippie rooipeper

5 ml droë mosterd                                                                   375 ml karringmelk

250 g ham, of weense worsies in dun repies               250 ml cheddar kaas, grof gerasper

30 ml fyn gekapte pietersielie                                                 3 eiers, geklits

pasteideeg

 

Bak die pasteideeg 10 minute sonder vulsel by 220 C.  Verhit die oond tot 180 C.  Meng die botter, meel, sout, rooipeper en mosterd oor lae hitte.  Roer die karringmelk by en meng glad.  Roer en kook 2 minute,  verwyder van die hitte.  Laat effens afkoel.  Roer die ander bestanddele by.  Skep die vulsel in die vooraf gebakte pasteikors.  Bak 45 minute tot  mooi bruin en pofferig.

 

7.  KORSLOSE SPEK EN WORSIETERT


Botter om 'n tertbord van 22 cm te smeer                  3-4 eetlepels vars volgraan-broodkrummels om

125 g swoerdlose ontbytspek, gekap                          om in bord te sprinkel

15 ml olie                                                                    1 klein uitjie, baie fyn gekap

1 x 200-g-blikkie Weense worsies in dun                   30 ml gekapte pietersielie

ringetjies gesny                                                                       5 ml gemengde droë kruie

250 ml beleë Cheddar-kaas, gerasper                                     375 ml melk

3 ekstra groot eiers                                                      45 ml  meel

5 ml bakpoeier                                                                         5 ml gegeurde sout (sout en peper)

5 ml mosterdpoeier

 

Braai die ontbytspek in die olie tot die vet begin uitbraai.  Voeg die ui by en braai tot dit sag en glansend is.  Voeg die worsies, pietersielie en kruie by.  Sprinkel die kaas in die voorbereide bak.  Skep die vleismengsel eweredig oor die kaas.  Klop die melk, eiers, meel, bakpoeier en geurmiddels deeglik saam.  Giet oor die vulsel.  Bak ongeveer 35 minute lank in 'n matige oond by 180C tot mooi bruin en gestol.

 

8.  KORSLOSE KAASTERT


15ml botter of margarien                                                6 eiers, geklits

125ml gerasperde Cheddarkaas                                     2 tamaties, geskil en grof gekap

5ml sout                                                                       1ml varsgemaalde swartpeper

12.5ml vars gekapte pietersielie                                     1 spekvleisrepie, swoerd verwyder & gekap

 

Voorverhit die oond tot 180C.  Verhit die botter of margarien  in ‘n swaarboombraaipan.  Meng die res van die bestanddele en voeg dit by die gesmelte botter of margarien.  Meng alles goed saam.  Gooi die mengsel uit in ‘n goed gesmeerde oondskottel en bak dit 35-40 minute lank op die middelste oondrak totdat dit ferm is.

 

9.  MOSSEL EN SAMPIOENTERT


30ml botter                                                                  1 ui, gekap

170 g sampioene, gekap                                              85 g gerookte mossels, grof gekap

250ml gerasperde cheddarkaas                                               knypie rooipeper

2 groot eiers                                                                125 ml melk

5 ml mosterdpoeier                                                     30 ml koekmeelblom

geuropwekker (Aromat)                                                          varsgemaalde swartpeper

 

Smelt botter in 'n pot.  Soteer ui daarin tot sag.   Meng ui, sampioene, mossels, kaas en rooipeper liggies saam en plaas in 'n gesmeerde tertbak.  Klits eiers, melk, mosterdpoeier, meel, geuropwekker en peper saam tot goed gemeng.  Giet melkmengsel oor vismengsel in tertbak.  Bak in 'n voorverhitte oond teen 180C vir 30 minute of tot gestol en goudbruin.

 


 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

10.  AFRIKA TERT


Kors:

70ml botter gesmelt                                                   

250ml Bacon Kips koekies, fyngemaak

 

Vulsel:

2 bosse spinasie, skoongemaak,fyn                             3 repies spekvleis, grof gekap

gekap en gaar gestoom                                                1 middelslag ui, fyn gekap

250g geroomde maaskaas                                           350ml suurroom

4 ekstra-groot eiers, geklits                                         125g fetakaas

parmesaankaas

 

Voorverhit die oond tot 150C en smeer ‘n 20cm-losboomkoekpan met botter of bespuit met kleefwerende kossproei.  Meng die botter en koekiekrummels goed en druk op die bodem en effens teen die kante van die voorbereide koekpan vas.  Hou eenkant.  Dreineer die gestoomde spinasie goed en druk dan in jou vuis droog om van alle vloeistof ontslae te raak.  Braai die spek tot halfgaar, voeg die uie by en braai tot die uie sag en geurig is.  Klits die maaskaas, suurroom en eiers goed saam.  Roer die spek en uiemengsel asook die spinasie by.  Roer die fetakaas in en giet in die voorbereide kors.  Bak 1¼ uur lank tot ferm en goudbruin.  Sprinkel ‘n bietjie parmesaankaas oor en laat staan vir omtrent 30 minute om stewig te raak. Bedien louwarm of teen kamertemperatuur.

 

 

 

11.  PLAIN JANE SE SOUTTERT


3 dik snye brood gekrummel                                      500ml melk

25ml botter                                                                  375ml gerasperde Cheddarkaas

1 blikkie Weense worsies, in stukkies gesny               1 pakkie spekvleis, in stukkies gesny

2 groot uie, fyn gekap                                                 4 eiers geklits

1 teelepel gemengde kruie                                          knippie sout

knippie rooi peper                                                       20ml mosterdpoeier

1 blikkie geroomde sampioene (opsioneel)

 

Kook die melk, brood en botter saam.  Braai die spek en uie tot ligbruin.  Klits die eiers.  Roer al die bestanddele goed saam.  Bak in 'n gesmeerde oondskottel vir ongeveer 35 minute by 180 C.

 

 

 

12.  SARDYN TERT


2 blikkies sardientjies                                                  113g gerasperde beleë Cheddarkaas

5ml gekapte pietersielie                                                           170g graanvlokkies

3 eiers, liggies geklits in 37.5ml melk                         12.5ml suurlemoensap

sout en peper na smaak                                                           brostertdeeg

5ml gekapte ui

 

Voorverhit die oond tot 200C.  Maak die sardientjies fyn en voeg res van bestanddele by .Skep mengsel in ‘n uitgevoerde tertpan.  Bedek met uitgerolde brostert deeg.  Bak vir 15 minute en verminder dan die hitte na 180C.  Bak vir nog 15 minute.

 

 

 

 

 

 

 

13.  SNOEKTERT


500g gerookte snoek                                                     2 groot uie, in dun ringe gesny

45ml botter of margarien                                            125g Cheddarkaas gerasper

6 meduim aartappels, gekook, geskil, in skywe                      sout en varsgemaalde swartpeper

1 groot tamatie, in skywe gesny                                             375ml room of dun witsous

15ml gerasperde Parmesaan of Cheddarkaas             125ml vars broodkrummels

klein bietjie botter of margarien.

 

Verwyder vel en grate en vlok die vis.  Braai uie in botter of margarien tot sag.  Plaas ‘n laag aartappels in ‘n gesmeerde oondskottel, voeg ‘n paar uieringe by en skep ‘n bietjie vis daarop.  Strooi kaas bo-oor.  Geur met sout, indien nodig, en ‘n goeie skoot gemaalde peper.  Herhaal lae en eiendig met aartappels.  Rangskik tamatieskywe bo-op.  Giet room of witsous oor en werk dit met ‘n kleinerige lepel deur tot op boom van skottel.  Meng res van kaas en broodkrummels, strooi bo-oor en stip met botter of margarien.  Bak ongeveer 35 minute lank by 180C of tot goed warm en goudkleurig.

 

14.  ASPERSIE TERT


KAASKORS:

250ml koekmeelblom                                                     125ml gerasperde kaas

125ml gerasperde botter

 

Meng al die bestanddele tot ‘n stywe deeg.  Druk vas op bodem en kante van bak met ‘n deursnee van 220mm. Vul met die volgende vulsel.

 

VULSEL:

100g biltong, in dun repies (of met groente)                    4 eiers

300ml ongegeurde jogurt                                               250ml gerasperde kaas

30ml gerasperde parmesaankaas                                   80ml melk

340g (1blik) aspersielote, gedreineer                              paprika & 30ml parmesaankaas (garnering)

 

Strooi biltong op tertkors.  Klits eiers, jogurt, kaas, parmesaan-kaas en melk goed en gooi oor die biltong. Pak aspersies bo-op eiermengsel en strooi res van parmesaankaas bo-oor. Bak 45 minute by 180C tot gestol.

 

15.  BOELIEBIEF-SOUTTERT


3 snye witbrood, korsies verwyder                             375ml melk

1x300g boeliebief                                                       1 ui, gekap

15ml olie                                                                     250ml gerasperde kaas

3 ekstra groot eiers, geklits

 

Voorverhit oond tot 190C en smeer ‘n medium tertbord met botter of bespuit met Spray & Cook.  Meng al die bestanddele en keer uit in tertbord.  Bak vir 30-45 minute tot goudbruin en gestol.  Bedien met ‘n slaai.

 

 

SOETTERTE

1.  JOGURT TERT


500 ml Jogurt (enige geur waarvan julle hou)             1 blik kondensmelk

1 pak Tennis beskuitjies                                                          botter

 

1. Maak beskuitjies fyn vir kors en meng met gesmelte botter.

2. Meng jogurt en kondensmelk goed.

3. Gooi oor kors en sit in mikrogolfoond vir 4 min. op hoog.

4. Sit in yskas vir ± 1½ uur.

 

 

 

2.  KARAMEL MELKTERT  ('n mikrogolf resep)


KORS:

6 Marie-beskuitjies                                                         ½ koppie sagte bruinsuiker

1 koppie klapper                                                           ½ koppie koekmeelblom

knippie sout                                                                  ½ koppie botter of margarien

VULSEL:

2 ekstra groot eiers                                                       4 koppies melk

½ koppie mielieblom                                                     60g suiker

15ml vlapoeier                                                               knippie sout

12.5ml botter of margarien                                             5ml karamelgeursel

 

Rol die Marie-beskuitjies fyn.  Voeg die bruinsuiker, klapper, koekmeelblom en sout by en meng.  Mikrogolf die botter ongeveer 1 minuut lank oop by 100% krag in ‘n diep, mikrogolfvaste bak met ‘n volume van 2 liter net tot gesmelt.  Voeg die beskuitjiemengsel by en meng.  Hou 30ml van die beskuitjiemengsel eenkant.  Druk die res van die mengsel met die agterkant van ‘n metaallepel vas teen die wand en op die boom van ‘n tertbak met ‘n volume van 2 liter.  Mikrogolf die kors 2 minute lank oop by 100% krag.  Skei die eiers.  Klits die eiergele en 200ml van die melk saam die dieselfde bak waarin die botter vir die kors gesmelt is.  Voeg die mielieblom, suiker, vlapoeier en sout by en klits tot gemeng.  Voeg die res van die melk by.  Mikrogolf die mengsel 12 minute lank oop by 100% krag tot gaar.  Roer dit elke 2 minute goed.  Roer die botter en karamelgeursel by. Klits die eierwitte tot styf, maar nie droog nie.  Vou dit liggies met ‘n metaallepel by die vulsel in.  Giet die vulsel in die kors.  Strooi die beskuitjiemengsel wat eenkant gehou is oor.

 

 

3.  PYNAPPEL YSKASTERT


1 pakkie tennisbeskuitjies                                           125ml appelkooskonfyt

25ml sjerrie                                                                  1 pakkie suurlemoenjellie

250ml kookwater                                                        397g (1blik) kondensmelk

440g (1blik) fyn pynappel                                           geklopte room vir versiering

 

Smeer tennisbeskuitjies met appelkooskonfyt en plaas 2 opmekaar.  Plaas in 200mm vierkantige bak.  Sprinkel sjerrie oor die beskuitjies.  Los jellie op in kookwater, en voeg die kondensmelk en fyn pynappel by.  Gooi oor beskuitjies en laat afkoel.  Versier met pynappel en room of sprinkel beskuitjiekrummels bo-oor.

 

 

4.  KARAMEL YSKASTERT


KORS

Halwe pakkie Nutty Crust-beskuitjies, gekrummel -          25ml botter gesmelt

 

VULSEL

125 ml vars room                                                                      2 sakkies Orley Whip

1 blikkie (380g) karamel                                                250g geroomde maaskaas

15ml gelatien, opgelos in 125ml water                            125ml strooisuiker

10ml karamelgeursel

 

Vir die kors:

Meng die beskuitjiekrummels en botter en druk dit vas in 'n gesmeerde losboompan, 240mm in deursnee.

 

Vir vulsel:

Klop elkeen van die twee rome afsonderlik styf en hou eenkant.  Klop die karamel en maaskaas saam.  Roer die opgeloste gelatien, strooisuiker en geursel by die karamelmaaskaasmengsel.  Vou die twee styfgeklopte rome in en giet die mengsel in die kors.  Laat stol oornag in die yskas.

 

 

 

 

 

5.  KOFFIE TERT


KORS:

4 eiers                                                                          250ml suiker

30ml botter                                                                  125ml melk

250ml meel                                                                  10ml bakpoeier

2.5ml sout                                                                   5ml kitskoffie poeier

 

STROOP:

250ml water                                                                180ml suiker

30ml kitskoffiepoeier                                                  5ml vanielje geursel

 

VULSEL:

1 blik karamel                                                              1 pakkie karamel kitspoeding

250ml melk                                                                 250ml room    

melksjokolade krulle

 

BEREI KORS:

Voorverhit die oond tot 180C.  klits eiers en suiker tot lig en romerig.  Smelt botter en voeg melk by.  Sif droë bestanddele saam en klits by eiermengsel.  Voeg bottermengsel by en meng goed.  Voer die bodem van ‘n tertbak uit met die kors.  Bak vir sowat 15 minute.

 

BEREI STROOP:

Verhit al die bestanddele behalwe die vanieljegeursel in ‘n kastrol oor matige hitte en roer totdat die suiker opgelos is.  Bring tot kookpunt en laat vir 5 minute prut.  Voeg vanieljegeursel by stroop.

Giet versigtig oor kors sodra dit uit die oond kom.  Laat afkoel.

 

BEREI VULSEL:

Klop karamel liggies met ‘n vurk en smeer oor die kors.  Maak kitspoeding aan met melk.  Klop room styf en vou in.  Skep oor karamel.  Versier met sjokolade krulle en plaas in yskas tot gestol.

 



6.  KONDENSMELKTERT


1 x 397g blik kondensmelk                                         3 koppies water

6 eetlepels mielieblom                                                 2 eiers, geel en wit apart

1 teelepel margarien                                                    1 teelepel vanielje geursel

tennisbeskuitjies

 

Verhit die kondensmelk en water.  Meng die mielieblom met ‘n bietjie water en roer dit by die melk.  Roer die mengsel tot dit dik word en verwyder van hitte.  Voeg die geklitste eiergele by en laat die mengsel weer kook tot dit gaar is.  Voeg die botter en geursel by. Pak ‘n laag beskuitjies in ‘n tertbord en gooi die helfte van die vulsel oor, dan nog ‘n laag beskuitjies met die res van die vulsel oor.  Rol ‘n paar beskuitjies fyn en strooi bo-oor. Versier met kersies.

 

7.  KORSLOSE MELKTERT


Maak 2 terte van 20 cm of 1 groot tert van 30 cm.

 

Min van ons kan 'n sny donsige melktert ryk met botter en geurige speserye weerstaan. U sal tyd bespaar deur nie 'n kors te maak nie - en meer as 'n paar kilojoules ook.

 

1 liter melk                                                                  ½ kaneelstokkie

skil van ½ suurlemoen of lemoen                                45 ml botter

250 ml koekmeel                                                         250 ml suiker

1 ml sout                                                                     7,5 ml bakpoeier

4 eiers, geskei                                                              2,5 ml amandelessens

10 ml fyn kaneel

 

Verhit melk, kaneel, suurlemoenskil en botter tot kookpunt en laat 20 minute trek.  Meng meel, suiker, sout en bakpoeier.  Dreineer melkmengsel en voeg by die eiergele.  Klop melkmengsel by die meelmengsel.  Voeg amandelessens by.  Plaas mengsel terug op die stoof en verhit oor matige hitte tot kookpunt.  Roer met 'n houtlepel. (Moenie bekommerd wees as 'n paar klonte vorm nie, klits dit glad met 'n klitser nadat u die eierwitte geklop het.)

 

Smeer tertbak mildelik met sagte botter.  Sprinkel met brood-, koekie- of beskuitkrummels (of gebruik hawermout, muesli of wat ook al beskikbaar is).  Klop eierwitte met 'n druppel asyn of suurlemoensap tot dit hul vorm behou en sagte punte vorm.  Klits melktertmengsel om klonte te verwyder.

 

Vou eierwitte in die tertmengsel en gooi in tertbak(ke). Sprinkel met kaneel. Bak 25-35 minute by 190C (375F). Skakel die oond af en laat 15 minute in die warm oond afkoel.  Sit warm of by kamertemperatuur voor.

 

8.  PEPPERMENT-CRISP KARAMELTERT


Die tert is vir diegene wat glo hulle kan nie bak nie. Dit is vreeslik maklik en vinnig om voor te berei en vind altyd groot byval.

 

1 x 380 g blik karamelkondensmelk                           50 ml suurlemoensap

2 x 125 ml-sakkies Orley Whip                                               2 x 50 g-stafies pepermentsjokolade, gerasper

1 x 200 g-pakkie Tennis-beskuitjies

 

Meng karamelkondensmelk en suurlemoensap goed saam.  Klits die Orley Whip tot styf en vou in die kondensmelkmengsel in. Smeer 'n langwerpige glasbak 20 x 30 x 5 cm, of bespuit dit met kleefwerende middel. Pak 'n laag beskuitjies op die boom van die bak en smeer 'n laag konden smelkmengsel eweredig oor.  Sprinkel gerasperde pepermentsjokolade oor.  Herhaal die lae totdat die beskuitjies en kondensmelkmengsel op is, eindig met 'n laag gerasperde pepermentsjokolade.   Plaas die tert in die koelkas.

 


9.  PIESANG TERT


KORS:

200G Tennis beskuitjies                                                          30ml suiker

2ml fyn kaneel

 

VULSEL:

3 klein ryp piesangs, fyngemaak                                             379g kondensmelk (1blik)

15ml suurlemoensap                                                    1 eiergeel

50ml geroosterde klapper

 

KORS:

Maak ‘n krummelkors en voer ‘n 23cm losboomtertpan daarmee uit.

 

VULSEL:

Voorverhit die oond tot 200C.  Meng alle bestanddele, behalwe klapper, giet in tertdop.  Bak vir 30-40 minute lank of tot stewig.  Sprinkel klapper oor.

 

 

 

10.  APPELTERT VERRASSING


(Dit lewer 1 tert)

1 x 400 g- bevrore skilferdeeg, ontdooi                                  45 ml vlapoeier

200 ml melk                                                                65 g versiersuiker (125 ml)

30 g margarien (30 ml)                                                            6 tertappels

125 ml brandewyn                                                      5 ml fyn kaneel

5 ml fyn koljander                                                       2,5 ml fyn neutmuskaat

120 g strooisuiker (140 ml)                                         2 eiers, geklits

 

Plaas 'n grootbord ( 25 cm in deursnee) op die deeg en sny rondom die bord.  Prik die deeg hier en daar met 'n vurk, plaas op 'n bakplaat en bak vir 15 minute in 'n voorverhitte oond teen 200C tot goudbruin.  Meng die vlapoeier en 50 ml van die melk om 'n gladde pasta te vorm.  Verhit die orige 150 ml melk tot kookpunt.  Voeg die versiersuiker by die kokende melk en roer om dit op te los.  Roer 'n bietjie van die warm melk by die vla mengsel, giet terug in die kastrol en bring oor matige hitte tot kookpunt.  Roer aanhoudend totdat die mengsel verdik.  Roer die margarien by en laat afkoel. (Bedek die kastrol met 'n bord om te verhoed dat 'n vel vorm).  Skil, ontkern en sny die appel in blokkies.  Sprinkel helfte van die brandewyn en al die speserye oor die appels.  Giet die oorblywende brandewyn in 'n braaipan, voeg die strooisuiker by.  Sodra die mengsel begin karameliseer, kan die appels bygevoeg word.  Laat 'n verdere 10 minute oor hoë hitte kook, roer aanhoudend.  Smeer die koue vla eweredig oor die gebakte deeg en plaas die warm appelmengsel bo-op. Sit dadelik voor met styfgeklopte, vars room

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

11.  GEBAKTE GRENADELLA TERT


KORS:

150g botter                                                                   250ml versiersuiker

2 groot eiers                                                                 500ml koekmeelblom

125ml fyn amandels                                                      3ml fyn kaneel

VULSEL:

250ml room                                                                 110g grenadellamoes

25ml mielieblom                                                          6 eiergele

125ml strooisuiker                                                       125ml amandelsplinters

BOLAAG:

110g grenadellamoes                                                  12.5ml mielieblom

 

KORS:

Meng botter en versiersuiker in voedselverwerker.  Voeg eiers by en meng goed.  Voeg meelblom, amandels en kaneel by, meng om bal te vorm.  Haal uit, draai in kleefplastiek toe en sit in yskas vir 1 uur.  Rol uit en voer ‘n 220mm tertbord uit.  Prik boom.  Sit tertpan in yskas vir 20 minute.  Voorverhit die oond tot 200C.  Bak vir 12 minute, haal uit en laat afkoel.

 

VULSEL:

Meng room, grenadella en mielieblom, verhit tot warm.  Klits eiers en strooisuiker in boonste deel van dubbelkoker tot lig en skuimerig.  Klits warm roommengsel by.  Roer oor hitte tot dik.  Gooi uit, koel af.  Strooi amandels in tertdop, maar hou ‘n paar eenkant vir versiering.  Skep vlamengsel in tertdop.

 

BOLAAG:

Verhit die grenadellamoes en mielieblom tot begin verdik en skep bo-op.  Versier met res van amandels.  Bêre in yskas tot met opdiening.

 

12.  CREMORATERT


500 ml Cremora                                                             250 ml warm water

1 pakkie beskuitjies, gekrummel                                     125 ml botter of margarien;

397 g kondensmelk                                                       125 ml suurlemoensap.

 

Voeg Cremora by warm water en klits tot opgelos.  Laat oornag in yskas.  Meng krummelbeskuitjies met botter of margarien en druk vas in 'n tertbord van 27 cm in deursnee.  Plaas in yskas. Klits kondensmelk by Cremoramengsel.  Roer suurlemoensap by totdat mengsel verdik.  Skep vulsel eweredig op kors en plaas in yskas.

 

13.  RUM EN ROSYNE YSKASTERT


250ml kookwater                                                        420ml pitlose rosyne

250ml room                                                                 397g  Caramel Treat (kondensmelk)

3ml vaniele geursel                                                      8ml rumgeursel

200g Tennis beskuitjies (1 pakkie)

 

1.       Giet die kookwater oor die rosyne en laat dit 15 minute lank week.

2.       Klits die room styf.  Voeg die Caramel Treat, vanielje en rumgeursel by en klits weer goed.

3.       Dreineer die rosyne, voeg dit by die kondensmelkmengsel en meng dit goed deur met ‘n houtlepel.

4.       Rangskik ‘n laag Tennisbeskuitjies op die boom van ‘n vierkantige tertbord van 220mm x 220mm, wat liggies met botter gesmeer is.  Skep ‘n laag rosynemengsel bo-op die beskuitjies.  Herhaal die lae en eindig met ‘n laag rosyntjiemengsel.

5.       Verkrummel ‘n paar beskuitjies en strooi dit bo-oor.

6.       Verkoel die tert 2-3 ure lank in die yskas of totdat die vulsel gestol het.

 

 

 

14.  GRIEKSE VLATERT


STROOP:

360ml suiker                                                                  2 kaneelstokkies

5ml suurlemoensap                                                       375ml water

 

VULSEL:

1.5liter melk                                                                180ml suiker

250ml botter                                                                skil van 1 lemoen in repies, gesny

200ml semolina (Tasty Wheat)                                               6 eiergele, geklits

 

KORS:

500g filodeeg                                                                100ml botter, gesmelt

12.5ml kaneelsuiker

 

Voorverhit die oond tot 180C.  Smeer ‘n 36cmx26cm-oondbak met botter.

 

STROOP:

Kook suiker, kaneelstokkies, suurlemoensap en water vir sowat 10 minute tot dik en stroperig.  Laat afkoel.  Haal kaneelstokkies uit voordat stroop oor die tert gegiet word.

 

VULSEL:

Verhit melk, suiker, botter en lemoenskil oor matige hitte.  Voeg semolina by net voordat die melk begin kook en roer aanhoudend totdat die vla dik en romerig is.  Haal van stoof af.  Laat effens afkoel voordat die geklitste eiergele bygevoeg word.  Haal die lemoenskil uit.

 

KORS:

Sit ‘n vel filodeeg filodeeeg in die bak sodat die boom en kante bedek is.  Verf die deeg met gesmelte botter.  Herhaal die proses met nog 6 velle filodeeg.  Skep vlavulsel op die deeg en bedek met nog 6 velle filodeeg wat elkeen met botter geverf is.  Sny 2 velle filodeeg in dun repies.  Versprei die repies oor die filobolaag en sprinkel ‘n bietjie gesmelte botter en kaneelsuiker oor.  Bak vir 45-50 minute tot goudbruin.  Giet koue suikerstroop oor warm tert.  Sny in vierkante en sit louwarm voor.

 

 

 

15.  GEMMER TERT


KORS:

65ml wit margarien gesmelt                                            200g gemmerbeskuitjies, verkrummel

 

VULSEL:

40ml goue stroop                                                          40ml gemmerstroop

300ml vlapoeier                                                             40ml vlapoeier, aangemaak met

125ml styf geklitste room                                              75ml water

15ml gelatien, geweek in 25ml water                               4 ingelegde gemmerstukke gekap

 

Meng die margarien en beskuitjiekruímels.  Voer ‘n gesmeerde tertbord met ‘n deursnee van 200mm uit met die beskuitjiekrummels en bak die kors 10 minute lank in ‘n voorverhitte oond by 180C.  Verhit die goue stroop, gemmerstroop en 300ml water tot kookpunt.  Verhit dit.  Voeg die vlapoeierpasta by die stroopmengsel en roer aanhoudend totdat die mengsel prut.  Giet ‘n klein bietjie van die warm vla-stroop-mengsel in die kastrol en roer dit totdat die mengsel weer prut.  Voeg die gemmerstukkies by en laat die mengsel effens afkoel.  Skep die vulsel in die gaar tertkors en verkoel dit in die yskas tot gestol.  Versier met roomrosies.