Wednesday 25 November 2015

Doen dit self Kondensmelk



Doen-dit-self-kondensmelk

Jy benodig:
1 liter volroommelk
300 g strooisuiker
2,5 ml sout
2,5 ml koeksoda
5 ml vanielje-ekstrak (op­sioneel)


Maak dan só:
1. Plaas die melk in ’n dikboomkastrol of -pan; hoe groter die oppervlak van die kastrol, hoe gouer sal die melk kan verdamp.
2. Roer die suiker by en voeg dan die sout, koeksoda en vanielje by. Plaas oor matige hitte en bring stadig tot kookpunt, maar moenie roer nie.
3. Die oomblik as die melk begin opkook, draai jy die hitte tot baie laag. Laat dit 2 tot 3 uur sonder ’n deksel baie stadig net-net prut, en roer dit sowat elke 10 minute goed.
4. Skep enige skuim wat vorm af. Sodra dit dik is, gooi in gesteriliseerde flesse.
5. Laat afkoel voor gebruik. Dit sal verder verdik as dit koel is.

 
 
Tuisgemaakte melkkonfyt – gekookte kondensmelk
Jy is dalk nog nie reg om jou eie kondensmelk te maak as Kersgeskenke nie, maar om jou eie melkkonfyt (gekookte kondensmelk) te maak sonder die drama van ’n stoompot is baie maklik met ’n prutpot (slow cooker of crockpot).
Daar is geen gevaar van die blik deur die plafon nie, en dit is maklik om te sien of die karamel reg is.
Dit lyk lieflik in die glas-inlêflessies, en jy hoef nie te wag totdat dit afkoel om die eerste happie te skep nie.

Maak só:
1. Gooi die geblikte kondensmelk oor in skoon glasflessies, draai die deksel stewig toe, sit dit in die prutpot, gooi warm water oor tot by die dekselvlak, sit die prutpot op hoog* en vergeet dit vir die volgende 8 uur.
2.Haal dit met ’n knyptangetjie uit en laat afkoel.
3. Dit sal ’n maand in die yskas hou (ja, ek lag ook – dit sal baie gouer verslind wees).


Smaakwenke vir melkkonfyt (gekookte kondensmelk)
  • Geur kondensmelk met koffie-ekstrak, vanielje-ekstrak, kardemom of Earl Grey-tee.
  • Verhit die flessie as jy die melkkonfyt meer vloeibaar wil maak as sous oor roomys.
  • Temper die soet met gevlokte seesout, of dien dit op met ietwat suur vrugte soos granaat, koejawel en pynappel.
  • Sit melkkonfyt voor met pere gestowe in kaneel, pienkpeper­korrels en vanielje. 
  • Sprinkel pimperneute oor vir tekstuur.
  • Smeer melkkonfyt tussen twee lae broskoekies en geniet met vars bokmelkkaas. 

Errieda du Toit