Tuesday 22 September 2015

Lekkergoed-pizzas




Lekkergoed-pizzas

Maak: 2
Bereidingstyd:
11/2 uur
Baktyd:
20 minute
Oondtemperatuur:
180 °C

• 230 g (250 ml) sagte botter
• 325 g (375 ml) bruinsuiker
• 2 groot eiers
• 5 ml vanielje-ekstrak
• 270 g (500 ml) koekmeel
• 210 g (500 ml) kitshawermout
• 5 ml bakpoeier
• 5 ml koeksoda
• 40 g (125 ml) droë klapper

1 Klits die botter en suiker saam tot dit romerig is. Klits dan die eiers en vanielje-ekstrak by.

2 Roer die meel, hawermout, bakpoeier, koeksoda, en ’n knypie sout by. Voeg die klapper by en roer tot dit goed gemeng is.

3 Verdeel die deeg in twee of vier stuke. Rol dit in bolle, druk dit platter op ’n oppervlak wat liggies met meel bestrooi is en rol dit uit om ’n groot sirkel te vorm. Gebruik ’n ronde vorm (soos ’n bord) om die rande van die deeg te sny sodat jy ’n netjiese sirkel het.

4 Pak die deegsirkels op bakplate wat gesmeer en gevoer is en bak dit vir omtrent 20 minute in die verhitte oond, of tot dit goudbruin is. Haal dit uit die oond, laat dit effens afkoel en sny dit dan in wiggies.

5 Laat die wiggies heeltemal op ’n draadrak afkoel, maar hou die sirkels bymekaar. Versier elke wiggie met lekkergoed en plak dit met harde versiersel (sien resep hieronder) op die koekies vas. Spuit klein kolletjies versiersel om die rand van elke wig, indien verkies.

Harde versiersel
Gooi een groot eierwit in ’n bak en klits dit liggies met ’n vurk. Voeg 7 ml suurlemoensap en 150 g gesifte versiersuiker by. Roer dit saam voordat jy geleidelik nog 115-135 g versiersuiker byroer totdat dit glad en blink is.