Thursday 22 August 2013

Eiervrye gemmerbroodmannetjies



Eiervrye gemmerbroodmannetjies

Maak: omtrent 16
Baktyd: 8-12 minute
Oondtemperatuur: 180 °C

• 125 g (135 ml) sagte botter
• 100 g (125 ml) bruinsuiker
• 180 g (125 ml) gouestroop
• 50 ml appelsous
• 270 g (500 ml) koekmeel
• 25 ml sojameel
• 3 ml koeksoda
• 20 ml fyn gemmer
• 5 ml gemengde speserye

Eiervrye harde versiersel
• 5-7,5 ml melk
• 80 ml versiersuiker, gesif
• 2 ml vloeibare glukose of gouestroop

1 Klop die botter en suiker saam tot dit lig is. Voeg die stroop en appelsous by en klop dit goed.

2 Sif die meel, koeksoda en speserye saam en roer dit by die bottermengsel in. Meng dit baie deeglik. Bedek dit met kleefplastiek en sit dit vir 30 minute in die yskas.

3 Rol die deeg tussen twee velle kleefplastiek tot 3-4 mm dik uit. Druk met ’n koekiedrukker mannetjies uit die deeg en pak dit op ’n uitgevoerde bakplaat. Sit dit weer vir ’n paar minute in die yskas as die deeg te sag raak.

4 Bak die gemmerbroodmannetjies vir 8-12 minute in die verhitte oond, tot dit mooi goudbruin van kleur is. Laat dit vir ’n paar minute op die bakplaat afkoel voordat jy dit op ’n draadrak sit om heeltemal af te koel.

Versiersel Meng

5 ml melk by die helfte van die versiersuiker in. Meng die glukose of stroop by, en roer dan die res van die versiersuiker bietjies-bietjies op ’n slag by, tot die versiersel dik en romerig is. Voeg nog melk by, indien nodig. As jy die versiersel wil kleur, kan jy nou kleursel byvoeg. Skep die versiersel in ’n klein papier-spuitsak met ’n nr. 1- of nr. 2-ronde spuitpunt en spuit die knopies. Rond dit met klein lekkertjies af, as jy wil.